Daar is dinge wat gebeur in hierdie wêreld wat ons nooit sal verstaan nie. Ons kan dit net aanvaar en later daarop terugkyk en weet dat alles so gebeur het.
Toe die moordenaar Piet Matthyse op 8 Oktober 1947 in die rondgaande hof op Oudtshoorn deur regter G. Steyn ter dood veroordeel is, was dit die herinneringe aan ’n vrou, en nie die bedreiging van die galg nie, waaroor hy vir die hof iets te sê gehad het, want Matthyse was nie net ’n moordenaar nie. Hy was ook ’n verleier van vroue en uiteindelik ’n verkragter.
So beland ek, laat op ‘n Vrydag middag, langs die monument van ‘n man. ‘n Skielike knal van die donderweer laat my hop soos ek skrik. Dis asof die natuur self die tragedie wat hom destyds hier afgespeel het, herhaal.
En dit klink belaglik as jy jouself nie daai omstandighede bevind nie, maar ek kon dit aanvoel in my gebeendere. Ek staan alleen hier, maar die mense van die gebeure van daai tyd kon ek aanvoel, asook die boosheid wat hulle hier vasgekeer het en die waarskuwing van ‘n kind wat werklikheid geword het op daardie verskriklike dag.
Skaars 100m van my af, aan die anderkant van die pad is die plek vanwaar die skoot geklap het, gemerk met wit klippe.
So, wat het my tot hier gebring? Hier, langs ‘n monument vir ‘n polisieman, gade en pa? Hier, op die spoor van ‘n moordenaar?
Daar is min dinge in die lewe wat jou so vry kan laat voel soos ‘n motorfiets. En as die fiets boonop ‘n Avontuur fiets is, dan kan jy die agterpaaie vat en die wêreld gaan verken. So, as ek hoor van ‘n legende hier, of ‘n storie daar, dan pak ek die Africa Twin en ek gaan soek daai storie. Want dan is dit nie meer net ‘n storie nie, dan word die sinne en karakters en gebeure in daai storie weer werklikheid. Jy hoor nie net die storie nie, jy lééf dit. Want jy was daar.
In Ladismith en Van Wyksdorp se wêreld word daar tot vandag toe stories oor Matthyse vertel. Hoeveel daarvan die waarheid en niks anders as die waarheid is nie, kan ’n mens net raai, maar dat daar meestal met ’n mate van bewondering van hom gepraat word, is seker. En so het die storie my laat beland op die pad na Van Wyksdorp.
’n Mens kan Van Wyksdorp van vier ander dorpe af benader, maar nie een van die paaie is geteer nie. Die pad van Ladismith af het ’n goeie ryvlak omdat dit gereeld geskraap word. Wanneer daar egter ’n voertuig verby kom, moet ’n mens so bietjie spoed verminder, want vir ’n rukkie is daar niks anders as stof voor jou nie.
Die mooiste pad na Van Wyksdorp is dalk die een van Calitzdorp af oor die Rooibergpas. Hom moet jy maar plek-plek versigtig ry. Moet ook nie haastig raak nie, want daar is net te veel plekkies wat jou tot stilhou verlei. Bo-op Rooiberg, byvoorbeeld, is daar ’n piekniekplek waar vroeëre reisigers, dié wat met perdekarre en ossewaens die berge oor is, ’n klipstapel laat verrys het. Met elke oortog is ’n gebed gedoen en ’n klip op die bestaande hoop geplaas.
Om van Riversdal af by Van Wyksdorp uit te kom ry ’n mens deur die lieflike Garciapas (geteer) en dan met die grondpad al langs die Langeberg tot waar die naambordjie jou links laat wegdraai.
My roete hierheen loop egter vanaf Herbertsdale. Dis ’n mooi kronkelpad tussen plase deur bergop. Ek maak eers ‘n stop op ‘n makadamia plaas, by die in-die-middel-van-nêrens Nuthouse Pub, om die hitte te verdryf en die droë keel te lawe. Daarna verder met die Cloetespas oor die Langeberg tot in die Klein Karoo. Dan dan sak jy af na die Gouritsrivier (’n lekker piekniekplek) en beur opnuut die skerp steiltes uit tot op die Klein Karoo se vlaktes.
Die moordenaar Piet Matthyse sou al hierdie paaie geken het, én ’n klompie ander wat hy net met boerbokke en bobbejane gedeel het. So in die ry raak my verbeelding maklik met my op hol, dan verwag ek so half dat Piet Matthyse in my spieëltjie agter in die pad gaan staan wanneer die stof loop lê. Maar hy is nie daar nie, net sy naam en die verhale oor hom.
Tydens my gesnuffel op die spoor van ’n lank reeds gevange en opgehangde Piet Matthyse het ek op heelwat stories afgekom. Mense sê daai Piet was ’n slim man. Hy’t partykeer agteruit geloop na ’n plek toe sodat die polisie sy spoor verkeerd sou vat. Piet Matthyse se dinge het kleintyd al begin. Op tien of 12 was die gereg reeds op sy spoor, en toe al was hy die polisie een voor. Wanneer die wêreld te warm vir Matthyse geword het, het hy die pad gevat. Meestal weliswaar te voet, maar soms ook, wanneer hy die dag genoeg geld gesteel het, per trein. So het hy na Port Elizabeth gereis, na Durban, Johannesburg, Warrenton, Kimberley en Graaff-Reinet. Hy sou maande uit die Klein Karoo wegbly, lank genoeg om sy ou spore te laat koud word. Ander kere het nuwe moeilikheid wat hy gemaak het of geldnood hom teruggedryf. Eers op 37-jarige leeftyd is hy net buite Van Wyksdorp in hegtenis geneem nadat hy ’n polisieman doodgeskiet het.
As daar een ding is wat ’n mens by Piet Matthyse kan leer, is dit geduld. Hy het ’n opstal of veepos dae lank dopgehou om die kom en gaan van die inwoners te bestudeer voordat hy die huis sou betree om te vat wat hy wil hê, selfs ’n vrou die kere wat hy sy sin kon kry. So het Matthyse kos gesteel en anderman se skaap geslag. Op ’n dag het hy by ’n winkel op Kareevlaktestasie ingebreek en ’n briefie agtergelaat: “Oubaas, ek is jammer die winkel was toe. Ek het dit toe oopgebreek en my sommer self gehelp en sal die winkel weer goed toemaak. Ek is nou ’n soldaat. Sê groete aan Ma.” Toe hy ’n veewagter se kos gegaps het, het hy vir die ou man geskrywe: “Oompie, ek sit ’n paar geldstukkies vir jou neer, want ek het nie die kos gesteel nie, ek het mos daarvoor betaal – Piet Soldaat.” ’n Man met humorsin, onse Piet. Van tyd tot tyd is perdekommando’s agter hom aangestuur, maar niemand kon hom vastrek nie.
Nadat hy die skaapwagter Jan Kamfer se huis rot en kaal besteel het, was daar van Jan se vrou, Roos, geen spoor nie. Eers later het die polisie uitgevind dat sy vrywillig saam met Piet die berge in is en daar het hulle haar later in hegtenis geneem.
Piet skryf op ’n Union Brand Jelly Crystals-pakkie: “Ek loop saam met die itokloosie. Op Vrydag sal ek Roos weer kom haal. Ek gaan Langeberg op, dan kom ek Swartberg af. Stilletjies.”
Maar toe daag hy die nag van 22 Desember 1946 omstreeks middernag gewapen met ’n gesteelde geweer by Jim en Esther Grootboom se eenslaapkamerhuisie in die George-distrik op, en daarna sou niks meer snaaks wees nie. Grootboom het uitgeroep: “Die Here behoed ons!” Skote het geklap. In die sitkamer het twee kinders, Annie Grootboom (17) en Willem Plaatjies (12), grootoog gesit. Annie het probeer wegkom, maar Piet het haar gevang. Hy is met die twee veld in, waar Willem weggekom en na ’n plaashuis gehardloop het om hulp te soek.
Piet het geweet dat die polisie nou met nuwe ywer na hom sou soek. Hy had niks meer om te verloor nie en het Annie verkrag nadat hy haar met die dood gedreig het. Daarna het Piet haar laat gaan. Sy het ’n vragmotor voorgekeer.
Die nuus van die Grootboom-moorde het soos ’n veldbrand deur die Klein Karoo versprei. Piet Matthyse was nie meer net ’n inbreker en veedief nie. Die polisie, bygestaan deur ’n bloedhond, het Piet se spoor gevolg van waar hy by ’n veewagter se huis ingebreek het. Op Kersdag het hulle afgekom op ’n plek waar die voortvlugtige geslaap het. Die kole van sy vuur het nog gegloei.
Op 26 Desember het Matthyse ’n ma en haar twee dogters gedwing om hom te vergesel. Twee nagte moes die ouer vrou ter oorlewing saam met hom slaap. Toe een dogter op 28 Desember flou val, het hy die drie laat omdraai huis toe. Piet Matthyse se spoor draai by Volmoed, wes van Oudtshoorn, in die rigting van Van Wyksdorp.
Die Burger berig op 31 Desember 1946: “’n Kleurling is gistermiddag omstreeks vyfuur sowat 6 myl buitekant Van Wyksdorp in die rigting van Riversdal in hegtenis geneem nadat die soekgeselskap van sowat 100 konstabels en nagenoeg net soveel boere deur die dag die omgewing gefynkam het. Gisteroggend omstreeks agtuur is Kaptein B.M. van Heerden, Distrikskommandant van Polisie op Oudtshoorn, in ’n geweergeveg met die Kleurling gedood. Twee konstabels is in die geveg gewond.”
Kaptein van Heerden se dogtertjie het, toe hy sy huis die dag voor die skietery verlaat, vir hom gesê: “Moenie gaan nie, Pappa, die outa sal Pappa net doodmaak.” Ironies was die kaptein se doopname Barend Matthys. Hy het daardie oggend drie keer teruggegaan om sy geliefdes te groet.
In die hof het Piet Matthyse die volgende gesê: “Die meeste moorde wat in die wêreld plaasvind, kom deur ’n meisiemens. Ek sou like dat sy ook iets oorkom.”
Het die onbekende “sy” dalk Piet Matthyse se hart gebreek sodat hy onverdiende wraak teen alle vroue gekoester het, of had hy maar, soos die Bybelse Adam, iemand nodig om die las van sy eie swakheid te help dra?
Kaptein van Heerden se weduwee, Fransie, het korrespondeer met Piet Matthyse in die tronk, hom later besoek en volgens vertellings het hy tot bekering gekom en om vergifnis gevra voor sy dood.
Maar dit is nie die einde van die storie nie…
Die insident het ‘n groot impak gehad op die lewe van Soon van Wyk. Hy was nog nie eers ‘n korrespondent vir Die Burger nie, toe beland sy berig oor die insident in 1946 op die voorblad van die koerant. Die einste Soon van Wyk het later, met behulp van ene Barend Shreuders eiehandig die monument vir Kapt B.M. van Heerden by Soutkloof opgerig. Kaptein van Heerden se vrou, dogter en seun was teenwoordig met die bekendstelling. Die inskripsie lees: “Kommandant B.M. van Heerden. Hy het sy lewe hier gegee in die uitvoering van sy pligte op 30 Dec 1946.” Soon van Wyk het die tralies van die Monument jaarliks kom verf tot en met sy aftrede.
En so beland ek hier. Op die snikhete Vrydag middag langs ‘n stofpad staan my ysterperd en afkoel. Vandag lyk die monument en traliewerk nog heel skaflik. As jy ooit na Van Wyksdorp ry, kom stop hier, skakel die enjin af, en luister. Nie na wát nie, luister sommer net.
Want dié wêreld het nog baie stories…
Ken julle die storie van die laaste man wat in George in die openbaar gehang is? Gert was ‘n voorslagboer, veedief, geweldenaar, moordenaar of selfs ‘n minnaar. Dit hang net af met wie jy praat. Wat wel waar is, is dat sy bynaam Bloubaard was. En hy het hier naby geboer…


Gedenksteen vir Kommandant B.M. van Heerden.


Wit geverfde klippe teen die koppie oorkant die pad wys vanwaar die skote geklap het.

Die ingang na Van Wyksdorp.

Die pad vanaf Herbertsdale oor Cloetes Pas na Van Wyksdorp.

Nuthouse Pub op Cloetes Pas.


Brug oor die Gouritsrivier (’n lekker piekniekplek) voor jy opnuut opbeur teen die skerp steiltes uit tot op die Klein Karoo se vlaktes.
*Bronne: Verskeie boorlinge van die distrik Ladismith, die C.P. Nel-museum op Oudtshoorn, geocaching.com, en die artikel “Die moordenaar van die Klein Karoo” deur R.G. Grebe in Die Brandwag van 10 Desember 1976.
**As Bloubaard se storie jou nuuskierigheid geprikkel het, lees die boek “Roman” deur Cas Wepener, saal jou ysterperd op en ry. Gaan soek Bloubaard se graf en as jy hom kry, kyk na die berge en klowe om jou, en luister.
Artikel: Johann van Tonder