Daar is paaie wat jy ry om van punt A na punt B te kom. En dan is daar paaie wat jy ry bloot vir die ervaring. Kom-se-Pad, diep in die Knysna-woude, is laasgenoemde. Ek het onlangs weer besluit om my motorfiets se wiele daarheen te draai – dis vir seker een van die mooiste, indien nie dié mooiste pad in die Tuinroete.


Vanaf die N2 langs die Knysna meer neem jy Ou Kaapse weg Noordwaarts, dieselfde pad waar die Knysna Hill Climb aangebied word, en net verby die Simola Gholf-landgoed as die pad ‘n grondpad raak draai jy links na die Gouna bosstasie. Die roete self is ongeveer 15 km lank, van Gouna in die weste na Diepwalle in die ooste. Dis ‘n kronkelende gruispaadjie, smal en soms hobbelrig, met gradiënte wat van sag (1:30) tot steiler (1:8) wissel. Die pad is deel van die ou bosroetes, en jy deel dit met bergfietsryers en soms bosvoertuie. Wees versigtig vir hulle op blinde draaie. ‘n Permit word benodig om die pad te ry en jy kan een verkry by SANParke se Diepwalle-kantoor tussen 07:00 en 17:00, of jy kan betaal by die hek, digby Gouna.
Gouna self het ‘n ryk geskiedenis. In 1881 het die Kaapse regering Italiaanse immigrante, gelei deur voorouers van Rayno Sciocatti, hierheen gebring om ‘n sybedryf te begin. Hulle het verwag om moerbeibome te vind, maar die eksperiment het misluk (lees “Moerbeibos” van Dalene Matthee). Tog het hulle ‘n nalatenskap gelaat: die San Ambroso-kapel, in 1891 gebou as ‘n Rooms-Katolieke kerk, is gerestoureer in 2005 deur ‘n afstammeling. Dis ‘n klein juweel in die bos, vol stories van volharding.

Kom-se-Pad slinger soos ’n geheime tonnel deur die groen wêreld van die Outeniquaberge. Die pad self is redelik maklik rybaar – selfs ’n sedan kan dit maak – maar op ’n motorfiets kry jy die volle ervaring van die padoppervlak, die los klippies, die klam bosgrond, en die stewige ritme van jou wiele oor die ongelyke grond.

Dit’s nie ’n roete vir spoed nie; dis ’n roete om stadig te vat. Jy word omring deur ‘n groen katedraal van bome en jy ruik ‘n mengsel van varings, mos en nat grond. Hou jou oë en ore oop vir die roep van die Knysna loerie (Knysna turaco). Hy het helder groen vere op die rug en kop, ’n vurige rooi bors en onderlyf, en ’n lang stert. Die gesig het ’n goue ring om die oog wat hom baie opvallend maak wanneer jy hom dophou. Dis een van daardie spesies wat voëlkykers regoor die wêreld spesiaal kom soek in Suid-Afrika en as jy gelukkig is, sal jy een tydens ’n rit deur die Knysna-woud raaksien.


Maak seker jy kyk uit vir Grootdraai-piekniekplek, kompleet met houttafels, braaigeriewe, vars water en bos-toilette, perfek vir ’n kort stop. Hier kan jy jou valhelm af haal en die stilte in drink terwyl jy enorme geelhoutrame bewonder. Dis ook die beginpunt van die Terblans-wandelpad – as jy lus is om jou stewels aan te trek en jou bene te rek.
En dan is daar natuurlik die groot geheim van hierdie woude: die Knysna-olifante. Hierdie olifante, die suidelikste in Afrika, was eens duisende sterk, maar jag en habitatverlies het hulle getal verminder tot miskien net een of twee oorblywende. Hulle is sedert 1908 beskerm, maar bly ontwykend in die bosse rondom Diepwalle en Gouna. Min mense het die geluk om een te sien, maar net die moontlikheid dat jy jou motorfiets hier deur olifantgebied ry, laat jou rêrig nederig voel. Dis asof die woud iets groots en tydloos fluister.
Teen die einde van Kom-se-Pad, waar die bome plek maak vir ooptes en berge in die verte, besef jy jy’t nie net ’n roete gery nie, jy’t ’n ervaring beleef. Vir enige motorfietsryer wat hou van avontuur, natuurskoon en ’n tikkie misterie, is Kom-se-Pad ’n moet. Dis ‘n portaal na die verlede, skilderagtige motorfietsritte, rustige verkenning, voëlkyk en bosbraaie.
Pak jou fiets, maak vol jou tenk, en gaan ontdek hierdie verborge juweel van die Tuinroete.

Artikel: Johann van Tonder