Voel jy soms net nutteloos? Moeg. Asof al wat jy doen is om die bollie wat ander maak skoon te
maak. Voel jy soms soos n miskruier?
Het jy geweet n miskruier is n belangrike diertjie / insek? Het jy geweet dat mense selfs opgewonde kan wees oor n miskruier, en ywerig kan uitkyk vir wie eerste een sien? Die nederige miskruier het onlangs onbeplan die tema van ons hele “Road trip” geword!
Dit het anders begin. Soos al die beste “roadtrips”.

“Weet julle waar is Toorwater?” Die stukkie skrywe het gemaak dat ons ons GRS Hilux se neus Oos gedraai en in die Klein Karoo ‘n grondpad tussen De Rust en Willowmore gaan opsoek het. Nou van waar die naam? Toorwater is n warmbron vol sulfate wat soms in die nag spontaan ontbrand. Verbeel jou jy sien dit een middernag in die 1800s op jou perd! Dis ook die naam van die spoorweg sylyn waar die film Paljas geskiet is, en die spoor-poort sussie van Meiringspoort en Seweweekspoort, wat van die Klein Karoo deurbreek na die Groot Karoo, digby Vondeling. Hier, naby Toorwater se iemand toe: “Het julle al gehoor van Fullarton?” En so druk die Hilux se neus meer Oos, name soos Miller, Klipplaat en Glenconnor rol verby. Elk met sy eie storie. Dis laatmiddag en ons moet slaapplek kry. Dungbeetle Lodge klink interresant?
Die Addo Dung Beetle gasteplaas is geleë op ‘n koppie in die hart van die Sondagsriviervallei. Hierdie is sitrus wêreld en die uitsig oor die boorde stek tot by die Zuurberg. Hier is verskeie verblyf opsies, van luukse chalets tot basiese eenhede in die bos geïnspireer deur die miskruiers van die area. Selfs ontvangs is in die vorm van ‘n reuse miskruier!
En so bly ons die aand in n miskruier huisie! Ons eenhede, Miskruier 2 en Miskruier 3, was in die bos gelee, lekker privaat, met hout paaitjies wat die eenhede verbind. Die eenhede is basies, maar goed toegerus met als wat jy nodig het vir ‘n lekker braai en ‘n warm nag. Die ablusie geriewe is ook in die bos, digby die eenheid en elke eenheid het sy eie, so jy hoef nie te deel nie. Die opelug stort so in die bos is veral ‘n belewenis.
Met dagbreek kom ons agter ons is slegs 4km van die Addo Nasionale Park se Hoofhek. So, wanneer in Rome…

Die dag word gespandeer in Addo. Daar is n speletjie met punte vir wie eerste spesifieke diere sien, en die beskeie miskruier tel klomp punte. Hulle rol die olifant mis weg, maar hulle is n bedreigde spesie en dus moet jy fyn kyk om nie die kruiers raak te ry nie. Groot is die opgewondenheid toe die eerste een gewaar word! En toe, gelukkig, sien ons baie. Daar is ook ander wild, veral olifante natuurlik. Gelukkig vir die kruiers – anders was hulle dalk werkloos. Maar nou is hulle een van die belangrikste skakels in Addo. Die beskeie miskruier.
Miskien is jou lewe ook nie so nutteloos as wat jy dink nie. Jy kort dalk net n lekker Roadtrip om jou gemoed te her herlaai en te laat agterkom dat watookal jy doen in die lewe, daar is nie onbelangrike skakels nie. En daai is nou nie bollie nie.
Artikel: Johann van Tonder