“Kan mens die berg tussen Wildernis en die Klein Karoo oorsteek, te perd?” 
Die dag toe Amanda Terblanche haarself daardie vraag gevra het, het sy nie kon droom dat dit sou groei tot ‘n jaarlikse ekspedisie wat hierdie jaar reeds in sy 23ste bestaansjaar staan nie. Die rit is deesdae onder die leiding van Caprice Coetzee en ‘n groep van 25 perde en ruiters onlangs weer die tog oor die berg aangepak na Louvain, ‘n gasteplaas in die Klein Karoo. Rosalyn van Zyl het saam gery:
As avontuurlustige persoon, ruiter en relatief nuwe intrekker in die Tuinroete, was die uitnodiging om die rit mee te maak soos ‘n Kersgeskenk in die middel van die jaar! Om die omgewing te leer ken en nuwe roetes te vind en dit boonop op die rug van ‘n perd is soos ‘n droom waarvan ek nog nie ontwaak het nie.
Die prentjie mooi Sewe passe pad het ons geneem na die saamtrek plek aan die voet van die berg waar ek en 24 ander ruiters voorberei het vir die tog oor die Duiwelskop Pas, ‘n ou ossewa pas uit vervloë dae. Sou hier vandag ‘n pas oor die berg gebou word, sou dit seker relatief maklik gewees het, maar in die ou dae van ossewaens moes reisigers reguit oor die berg ander sou die waens omval. Hierdie pas was destyds dus reg oor die berg, reg oor Duiwelspiek, so genoem omdat reisigers seker was dat nie eers die duiwel homself so roete sou aanpak nie. Die roete was steil en klipbanke, sommige tot 4 voet hoog, moes oorkom word. Hier moes reisigers fisies die ossewaens teen die banke optel. Die roete was uitgelê deur plaaslike boere, Jacobus van Beelen en Stephanus Terblanche in 1772 en oopgestel vir publieke gebruik in 1776.
As ervare ruiter wat al vele roetes reg oor die land gery het, moet ek bieg dat hierdie een van daai roetes is wat jou asem weg slaan en jou na woorde laat soek om te prag te beskryf.
Die roete begin as ‘n dubbelspoor pad deur ‘n woud. Die pad raak algaande weg tot jy jou bevind op ‘n eenspoor paadjie teen die hang van die berg. Dis soos ‘n sensoriese wonderwêreld van kleur, reuk, klank en gevoel as jy letterlik deur tonnels van bome en plantegroei ry met reën wat saggies om jou neersak terwyl watervalle en voëlgesang die natuur se musiek in jou ore is. Dan breek jy los uit die bos en word begroet met wye uitsigte oor die valleie en berge. Die paadjie kronkel teen die berg en oorkruis menig male stroompies en riviertjies. Skielik stop ons by ‘n roete-aanwysing wat aandui dat ons nou met die Ou Ossewa roete begin. Hierdie rit, wat reeds ‘n avontuur was, sou nou eintlik eers begin.

Die Ossewa roete dwing jou siel tot n nederige respek vir ons voorvaders wat met ossewaens oor die berg is. Dit is op plekke so klipperig dat jy jou moet verlaat op die geloof in jou perd om jou met grasie oor die rowwe terrein te dra. Ek kan myself net indink dat dit dae moes neem om ‘n ossewa oor die klipperige pad te kry, plek-plek met ‘n tamaai afgrond aan die eenkant. Na ongeveer 30km van moeilik en mooi, bos en berg, hellings en afgronde en dit op ‘n perd se rug het ons die berg oorgesteek en by ons eind bestemming aangekom. Hier het ons die perde kon afsaal vir die nag vir ‘n wel verdiende rus. Ons is ontvang met ‘n gasvryheid soos jy net op ‘n Suid Afrikaanse plaas kan kry, terwyl die son deurbreek om vir oulaas die pragtige berg uitsig te beklemtoon met ‘n reënboog as fokuspunt.
Dis oomblikke soos hierdie wat jou ter gelyke tyd nederig en dankbaar maak vir die voorreg om te kan léwe.
Dit was ‘n koue wintersaand in die Klein Karoo en ons het naby die vure gestaan waar die vleisie gebraai is. Na ete het ‘n klomp moeë ‘n wel verdiende nagrus geniet want sien, more doen ons dit wéér. Na ‘n heerlike plaas ontbyt was dit weer opsaal tyd vir die terugtog huistoe. Rigting Suid voel soos ‘n nuwe roete, veral as jy eers oor die berg is met die Wildernis landskap tot teen die see as jou uitsig. Daar is ‘n gevoel van vervulling tussen ruiters en perde na die roete suksesvol afgelê is. Nuwe gesigte word gegroet as familie na so rit, maar net tot volgende jaar, selfde tyd, selfde plek.
Artikel & Fotos: Rosalyn van Zyl



