7 gratis uitstappies met jou Suzuki Ignis
Jy hoef nie 'n duur 4x4 of 'n groot begroting te hê om die Suid-Kaap te verken nie. Van strande en boskuier tot geocaching, piekniek en staproetes, hier is sewe bekostigbare avonture wat ons met die klein Suzuki Ignis gaan ontdek het.
Die ekonomie trek swaar en die begroting knyp. Maar gelukkig bly die beste dinge in die lewe dikwels verniet.
En hier in die Suid-Kaap is ons besonder bevoorreg. Ons het strande, woude, berge, mere en staproetes wat sommer op ons voorstoep lê.
Jy hoef ook nie ‘n duur 4×4 of ‘n sak vol geld te hê om dit alles te geniet nie.
Vir hierdie uitstappies het ons weer die klein Suzuki Ignis ingespan, ‘n ekonomiese, bekostigbare motortjie wat al heelwat meer avontuur beleef het as wat ‘n mens van ‘n gewone luikrug sou verwag.
Die Ignis het in die 2017/18 Cars.co.za Consumer Awards die titel vir beste begrotingsmotor gewen, en ons het hom selfs al met groot sukses tot onder in Gamkaskloof geneem.
Daardie avontuur kan jy lees in ons storie ‘n Helse lekker karretjie!
Maar jy hoef nie elke naweek Hel toe te ry om pret te hê nie.
Hier is sewe idees vir ‘n lekker daguitstappie wat jou nie ‘n fortuin hoef te kos nie.
Wel, die petrol en padkos moet jy natuurlik self voorsien!
1. Lê op die strand
Dit klink dalk heeltemal vanselfsprekend, maar wanneer laas het jy regtig ‘n paar uur op die strand deurgebring?
Nie net vinnig gaan kyk hoe die see lyk nie. Ek praat van skoene uittrek, tone in die sand druk en sommer net ‘n slag ontspan.
Ons woon in ‘n wêreld waar almal voortdurend besig is. Selfs mense wat ‘n paar kilometer van die see af woon, kom soms maande lank nie by die strand uit nie.
Maak tyd!
Bou ‘n sandkasteel, gaan stap langs die water, kyk wat in die rotspoele wegkruip of sit sommer net en luister na die branders.
Die lang strand by Wildernis is ‘n gunsteling, maar daar is natuurlik ook Heroldsbaai, met sy eie besondere geskiedenis en vakansie-atmosfeer.
En as jy gelukkig is, voel jy teen die tyd dat jy weer in jou motor klim sommer ‘n paar jaar jonger.
Al het jy dalk ‘n halwe kilogram sand saamgebring.

2. Gaan kuier in die bos
Die Suid-Kaap is geseën met van die mooiste inheemse woude in die land.
Daar is iets besonders aan die koel, groen wêreld onder die groot bome. Die sonlig wat tussen die blare deurval, die reuk van klam grond en die geluid van voëls wat iewers bo jou kop baljaar.
En wat is nou lekkerder as ‘n rustige kuier onder daardie bome?
Pak ‘n piekniekmandjie of besoek een van die aangewese bosbraaiplekke waar vuurmaak toegelaat word.
Die Prins Alfredpas en die omgewing van die Sewe Passe-pad bied pragtige boslandskappe om te verken.
Daar is ook bekende piekniekplekke soos Jubilee Creek en Millwood, hoewel toegang tot sommige SANParks-terreine betaalbaar is.
As jy ‘n gratis uitstappie beplan, kies vooraf ‘n plek waar openbare toegang toegelaat word en geen toegangsfooi gehef word nie.
En onthou dat braai nie sommer oral in ‘n bos toegelaat word nie. Gebruik slegs aangewese braaigeriewe wanneer vuurmaak uitdruklik toegelaat word, en respekteer enige brandverbod.
Maar selfs sonder ‘n vuur is ‘n paar toebroodjies onder die groot bome ‘n heerlike uitstappie.
Dis die geselskap en die omgewing wat saak maak, nie hoe indrukwekkend jou braaivleis lyk nie!

3. Stap langs die meer
Die mere en vleilande by Wildernis is een van die Tuinroete se groot natuurskatte.
Ons ry dikwels daar verby, kyk vinnig by die motorvenster uit en dink hoe mooi dit is.
Maar dis eers wanneer jy uitklim en ‘n entjie langs die water stap dat jy die plek werklik begin waardeer.
By Langvlei is daar ‘n kort houtloopvlak van ongeveer 150 m wat deur die plantegroei na die Malachite-voëlskuiling lei.
Dis nie ‘n uitmergelende bergstap nie, maar eerder ‘n rustige wandeling waar jy die riete, water en voëllewe van nader kan beleef.
Die skuiling bied ‘n besonderse geleentheid om watervoëls dop te hou sonder om hulle te veel te versteur.
En jy hoef nie ‘n kenner van voëls te wees om die omgewing te geniet nie.
Sit ‘n rukkie stil en kyk wat om jou gebeur. Jy sal verbaas wees hoeveel lewe daar tussen die riete skuil.
Volgens die beskikbare roete-inligting is toegang tot hierdie voëlskuiling gratis, hoewel die terrein se toegangsreëlings altyd vooraf nagegaan moet word.
Dis een van daardie eenvoudige uitstappies wat jou weer herinner hoe mooi die natuur hier rondom ons is.

4. Gaan soek ‘n skat
Het jy al van geocaching gehoor?
Dis ‘n wêreldwye skattejagspeletjie waarin mense klein houertjies op interessante plekke versteek en ander deelnemers GPS-koördinate gebruik om hulle op te spoor.
En glo my vry, daar is waarskynlik ‘n skat iewers nie baie ver van jou huis af nie!
Wat hierdie stokperdjie so lekker maak, is dat jy nie duur toerusting nodig het nie. Met ‘n gewone slimfoon en die Geocaching-toepassing kan jy reeds begin.
Die houertjies wissel van piepklein kapsules met net ‘n logboekie tot groter bokse vol speelgoedjies en ander voorwerpe wat deelnemers kan uitruil.
Maar vir my is die eintlike skat nie noodwendig wat in die boksie is nie.
Dis die plekke waarheen die soektog jou neem.
Soms ontdek jy ‘n versteekte paadjie, ‘n interessante historiese plek of ‘n mooi uitsig waarvan jy nooit geweet het nie.
En dit maak geocaching ‘n uitstekende gesinsaktiwiteit.
Ons het ‘n volledige artikel oor hierdie lekker stokperdjie geskryf. Lees gerus Skattejag! om te sien hoe dit werk en hoe jy self kan begin.
Die basiese Geocaching-toepassing is gratis, hoewel sommige skatte en bykomende funksies ‘n betaalde lidmaatskap vereis.
Lekker soek!

5. Hou piekniek in die park
‘n Kombers, ‘n mandjie met iets lekkers, ‘n groot koelteboom en ‘n paar uur sonder enige verpligtinge.
Dis omtrent al wat jy nodig het vir ‘n heerlike middag.
Een van ons gunstelingplekke hiervoor is die Van Riebeecktuine in George.
Hierdie lang, groen strook tussen die woonbuurte is een van George se mooiste openbare ruimtes.
Groot bome verskaf skaduwee, daar is volop voëllewe en met ‘n bietjie geluk kan jy selfs kleinwild tussen die plantegroei gewaar.
Die tuine is ook gewild onder fotograwe, met gereelde troufoto’s, gesinsportrette en selfs motorfotosessies.
Ons het al self ‘n heerlike piekniek daar gehou, en die plek het selfs ‘n rol gespeel in een van ons Ultimate Drive-motorfotosessies.
Daar is natuurlik talle ander parke en groen ruimtes waar jy ook kan gaan ontspan.
Jy hoef nie eers ‘n deftige piekniekmandjie te besit nie.
‘n Paar toebroodjies, ‘n koeldrank en iets om op te sit is heeltemal voldoende.
Lees ook ons storie Van Riebeecktuine: George se hart is rustig, waar ons ou en nuwe foto’s van hierdie besonderse tuin vergelyk.

6. Trek jou stapskoene aan
Die Tuinroete is ‘n paradys vir mense wat daarvan hou om te stap.
En jy hoef nie noodwendig ‘n lang, duur staptoer te bespreek om van ons mooiste landskappe te beleef nie.
Een van die bekendste gratis dagroetes is die St Blaize-staproete by Mosselbaai.
Die roete begin by die grot onder die Kaap St Blaize-vuurtoring en volg die dramatiese kuslyn tot by Danabaai.
Oor ongeveer 13,5 km stap jy hoog bo die Indiese Oseaan, met indrukwekkende uitsigte oor die see, rotse en fynbos.
Die volle roete kan sowat ses uur neem, afhangend van jou fiksheid en hoeveel keer jy stop om foto’s te neem.
Dis ook nie nodig om die hele afstand te stap nie.
Jy kan eenvoudig ‘n deel van die roete verken en weer omdraai wanneer jy genoeg gestap het.
Neem genoeg drinkwater, ‘n hoed, sonblok en goeie stapskoene saam.
Wees versigtig naby die kranse, veral wanneer dit baie winderig of mistig is, en hou ‘n oog oop vir slange wat soms op die paadjies lê en bak.
As jy die volle roete aanpak, moet jy vooraf vervoer by die eindpunt reël.
Die St Blaize-roete is ‘n uitstekende voorbeeld van hoeveel natuurskoon jy kan beleef sonder om ‘n toegangsfooi te betaal.
En vir nog idees kan jy gerus ons artikel Verken die Suid-Kaap! lees.

7. Doen ‘n goeie daad!
Hierdie laaste een kos jou nie ‘n sent nie, maar dit kan ‘n groot verskil maak.
Hou ‘n sakkie in jou motor vir rommel wat jy tydens jou uitstappies optel.
Of jy nou op die strand stap, in die bos piekniek hou of iewers langs ‘n grondpad stilhou, tel sommer ‘n paar stukke rommel op wat iemand anders agtergelaat het.
Dis ongelooflik hoeveel plastiek, bottels en papiere ‘n mens soms op die mooiste plekke aantref.
As elkeen van ons net ‘n klein bietjie moeite doen, kan ons help om ons omgewing skoner en mooier te hou.
Moet natuurlik nie aan gevaarlike of skerp voorwerpe vat nie.
En as jy kinders het, is dit sommer ‘n goeie manier om hulle van kleins af te leer dat die natuur iets is wat ons almal behoort op te pas.
Die avontuur begin by jou voordeur
Die Suzuki Ignis het ons al op heelwat avonture geneem, van die steil bergpaaie van Gamkaskloof tot die rustige parke en strande van die Suid-Kaap.
Maar die klein Suzuki is eintlik net die vervoermiddel.
Die belangrikste is om uit te kom, iets nuuts te ontdek en ‘n slag die alledaagse gejaag agter te laat.
Jy hoef nie honderde kilometers te ry, in duur hotelle te bly of die nuutste avontuartoerusting te besit nie.
Soms is ‘n paar kilometer van jou voordeur af reeds ‘n avontuur wat wag om te gebeur.
Pak dus iets te ete, vat die gesin saam en gaan verken jou omgewing.
Jy sal verbaas wees hoeveel daar is om te ontdek.
En onthou, daar is stories oral om ons.
