ULTIMATE JOURNEY • Klein Karoo

‘n Helse lekker karretjie!

Kan 'n klein Suzuki Ignis die berugte pad na Die Hel baasraak? Ons het hom op die proef gestel tussen die groot 4x4's, sinkplaatpaaie, rivierkruisings en skerp bergdraaie van Gamkaskloof. Die resultaat was 'n helse lekker verrassing!

Story & photographs: Johann van Tonder
Gamkaskloof, Swartberge, Western Cape

Groot sportnutsvoertuie en viertrek-dubbelkajuitbakkies is gewild in Suid-Afrika. En met goeie rede.

Hulle is ruim, gemaklik en kan jou na plekke neem waar ‘n gewone motor nie sommer sal kom nie. Sommige manne is deesdae so goed toegerus dat, wanneer hulle kamp opslaan, dit lyk of hulle ‘n hele klein dorpie saamgebring het. Ek wag net vir die eerste ou wat sy eie posbus langs die tent opsit!

Dis alles baie lekker, maar beteken dit dat ‘n mens nie sonder so ‘n voertuig die wêreld kan gaan verken nie?

Ons het besluit om daardie vraag op ‘n nogal ongewone manier te beantwoord.

Ons gaan Hel toe.

Met ‘n Suzuki Ignis.

‘n Klein karretjie met groot planne

Toe ons vertel dat ons ‘n storie oor Gamkaskloof, oftewel Die Hel, met ‘n Suzuki Ignis gaan doen, het sommige mense gedink ons is van lotjie getik.

‘n Klein luikrug is mos nie die soort voertuig wat ‘n mens gewoonlik met avontuurritte deur die Swartberge assosieer nie.

Maar ons het die Ignis reeds op ‘n vorige uitstappie oor die Montagupas geneem, en die karretjie het ons daar nogal beïndruk.

Met 180 mm grondvryhoogte, ‘n kort asafstand en ‘n lekker klein draaisirkel het die Suzuki ‘n paar nuttige eienskappe vir grondpadry.

Natuurlik is hy nie ‘n 4×4 nie. Daar is geen laestrek of spesiale veldrytoerusting nie, en sy vermoëns het beslis perke.

Maar met ‘n bietjie versigtigheid en ‘n pad wat in ‘n redelike toestand is, kan so ‘n klein motortjie jou soms baie verder neem as wat jy dink.

Blou Suzuki Ignis by die Gamkaskloof-padteken op die Swartbergpas
37 km na Gamkaskloof. Die klein Suzuki Ignis staan reg vir ‘n groot avontuur.

Die pad Hel toe

Eerste aan die beurt was die Swartbergpas, met sy asemrowende uitsigte en indrukwekkende rotsformasies.

Daar is min plekke waar ‘n mens so duidelik kan sien watter geweldige kragte die berge oor miljoene jare gevorm het.

Naby die kruin draai die pad na Gamkaskloof af.

En dis waar ons avontuur behoorlik begin het.

Die eerste 10 km was destyds bitter sinkplaat gery. Ons het maar stadig voortgekruip terwyl die pad sy bes probeer het om die stopsels uit ons tande te skud.

Daarna het dit darem beter gegaan, hoewel ons steeds vir groot klippe moes koes en hier en daar deur water moes ry.

Die Ignis het egter geen teken gegee dat hy wou moed opgee nie.

Een van die lekker dinge van ‘n klein motor is dat jy soms makliker tussen hindernisse kan deurstuur as met ‘n groot voertuig. Die belangrikste was om die spoed laag te hou en mooi te kyk waar ons ry.

En natuurlik om nie te vergeet dat daar onder daardie klein karretjie net 180 mm spasie tussen die pad en die laagste punt is nie.

Die afdraande in Die Hel

Uiteindelik het ons by die dramatiese afdraande na Gamkaskloof gekom.

Hier kronkel die pad met ‘n reeks skerp haarnaalddraaie teen die berg af, met geweldige uitsigte oor die diep vallei daaronder.

Die klein Ignis se kort asafstand en knap draaisirkel het hier handig te pas gekom.

Ons het rustig van draai tot draai gery, terwyl die vallei al hoe groter voor ons oopgegaan het.

Dis een van daardie paaie waar ‘n mens amper jammer is wanneer jy uiteindelik onder aankom.

Suzuki Ignis op 'n uitkykpunt bo die diep Gamkaskloofvallei in die Swartberge
Die klein Ignis hoog bo Gamkaskloof, met die kronkelende bergpad wat diep in die vallei afsak.

En toe staan ons uiteindelik onder in Die Hel.

Die klein blou Suzuki het trots sy staanplek tussen die Fortuners en Land Cruisers ingeneem.

Ek kon nie help om te glimlag nie.

Hier staan ‘n motortjie wat die meeste mense waarskynlik net vir inkopies en daaglikse stadsverkeer sou oorweeg, nadat hy pas een van die bekendste afgeleë grondpadroetes in die Klein Karoo baasgeraak het.

Nie sleg vir ‘n klein luikrug nie!

En toe moes ons weer terug

Natuurlik is die probleem met ‘n rit na Gamkaskloof dat jy dieselfde 37 km weer moet terugry.

En daardie stuk sinkplaatpad was steeds daar.

Ons het die klein Suzuki soms behoorlik jammer gekry, veral wanneer die grondpad ons weer soos ‘n melkskommel begin rondskud het.

Maar toe ons uiteindelik weer die teerpad bereik, was daar nie eens die geringste ratel uit die Ignis nie.

Alles het nog presies gewerk soos toe ons vertrek het.

En die brandstofverbruik?

Ná ‘n hele dag se ry, waarvan baie ure in eerste, tweede en derde rat deurgebring is, het die boordrekenaar steeds ‘n gemiddelde verbruik van net 5,9 L/100 km gewys.

Dit was nogal indrukwekkend.

Suzuki Ignis ry versigtig deur 'n vlak rivierkruising op die pad na Gamkaskloof
Selfs ‘n paar rivierkruisings was deel van die avontuur. Dit beteken natuurlik nie dat ‘n mens sommer enige waterkruising met ‘n gewone motor moet aanpak nie.

Moet jy nou ook met jou klein kar Hel toe ry?

Wel, dit hang af.

Die pad na Gamkaskloof is berug daarvoor dat sy toestand kan verander. Swaar reën en vloedwater kan groot skade aanrig, waarna die pad herstel word en dikwels weer vir ‘n geruime tyd mooi begaanbaar is.

Wanneer die roete oop en in goeie toestand is, kan baie voertuie met redelike grondvryhoogte dit aanpak sonder dat vierwielaandrywing noodwendig nodig is.

Maar dit is nie altyd die geval nie.

‘n Paar reënbuie kan alles verander, en daar is plekke waar groot klippe, diep spoelslote of rivierkruisings ‘n gewone motor se vermoëns kan oorskry.

Die belangrikste is om nie bloot aan te neem dat die pad vandag dieselfde lyk as tydens iemand anders se vorige besoek nie.

Bevestig altyd die jongste padtoestand, amptelike toegang en vereistes by CapeNature voordat jy vertrek.

En onthou, die 37 km vanaf die Swartbergpas is ‘n stadige bergroete. Dit kan maklik twee tot drie uur neem om die vallei te bereik. Daar is ook nie brandstofpunte langs die pad nie.

Die avontuur hoef nie ‘n fortuin te kos nie

Hierdie is Ultimate Journey, nie ‘n formele motortoets nie, maar die klein Suzuki het ons destyds só beïndruk dat ons eenvoudig die ervaring moes deel.

Dit was ook nie die enigste keer dat die Ignis erkenning gekry het nie. Hy het in die 2017/18 Cars.co.za Consumer Awards met die titel vir beste begrotingsmotor weggestap.

Maar vir my was die belangrikste prestasie nie ‘n toekenning nie.

Dit was daardie klein karretjie wat ná ‘n dag op ‘n rowwe bergpad steeds sonder ‘n enkele klagte huis toe gery het.

Die hele uitstappie het weer iets bevestig wat ek al lank glo.

Jy hoef nie noodwendig die grootste, duurste of mees toegeruste voertuig te besit om iets besonders te gaan ontdek nie.

Natuurlik moet jy jou voertuig se beperkings ken en die regte pad kies.

Maar soms is ‘n gewone motortjie, ‘n bietjie avontuurlus en die bereidwilligheid om die hoofpad te verlaat al wat jy nodig het.

En as jy dit reg doen, kan selfs ‘n klein Suzuki jou op ‘n helse lekker avontuur neem!

The road takes you there.
The story gives the journey meaning.

Ultimate Journey explores the roads, places, people and history hiding in plain sight across South Africa.