ULTIMATE JOURNEY • Southern Cape & Karoo

Op die spoor van Gideon Scheepers

In Januarie 1901 het Gideon Scheepers met sy kommando Uniondale binnegekom. Sy veldtog sou hom deur die Suid-Kaap en Langkloof voer. Vandag vertel die paaie, forte, grafte en gedenktekens steeds iets van daardie merkwaardige verhaal.

Story & photographs: Johann van Tonder
Uniondale, Klaarstroom, Langkloof en Prins Albert

DEEL EEN | DIE VELDTOG

Die jong kommandant wat die oorlog tot in die Suid-Kaap gebring het

Prefer to read in English?

Read this story in English →

Die Sondag toe die oorlog Uniondale bereik het

Dit was Sondag, 20 Januarie 1901. In die klein dorpie Uniondale was die gewone Sondagroetine aan die gang toe ‘n groep gewapende Boereryers die dorp binnegekom het.

Aan die hoof was ‘n jong kommandant wat nog nie sy 23ste verjaardag gevier het nie. Sy naam was Gideon Scheepers.

Die oorlog, wat vir baie inwoners van die Kaapkolonie tot dusver iets was wat elders afgespeel het, het skielik op hulle voorstoep aangekom.

Scheepers en sy manne was nie daar om die dorp permanent te beset nie. Hulle het ander planne gehad.

Die vorige dag het hulle by Willowmore weerstand ondervind. Die dorp se verdedigers was gereed vir hulle, en die kommando het verder weswaarts beweeg. Uniondale was ‘n ander saak. Hoewel die dorpenaars reeds van die naderende Boere gehoor het, was daar min tyd om ‘n behoorlike verdediging te organiseer.

Omstreeks elfuur is Boeremagte op die omliggende heuwels gewaar. Teen die middag het sowat vyftig ruiters die dorp binnegekom.

Die telegraafoperateur het nog daarin geslaag om ‘n waarskuwing uit te stuur voordat hy met sy toerusting verdwyn het. Maar vir die landdros was dit te laat. Die Boere het die sleutels van die hofgebou en tronk geëis, bruikbare perde opgekommandeer en gevangenes vrygelaat. Die landdros, tronkbewaarder en Engelse predikant het op hulle beurt agter slot en grendel beland.

Dit was ‘n besonder ongewone Sondag in Uniondale.

Volgens die herinneringe van dr R. Morrow, wat destyds tydelik as distriksgeneesheer in Uniondale gewerk het, het hy Scheepers by die plaaslike hotel aangetref. Die kommandant het daar gesit en briewe gelees wat uit die poskantoor geneem is.

Morrow het ook Scheepers se adjudant, Henry Hugo, ontmoet. Hugo het hom vir ‘n drankie genooi. Vir ‘n Britse onderdaan in ‘n dorp wat pas deur Boereryers beset is, was dit ‘n ietwat ongemaklike uitnodiging.

Die dokter het hom egter goed uit die situasie gered. Pleks daarvan om ‘n heildronk op die koningin voor te stel, het hy die hoop uitgespreek dat Hugo nooit die dienste van ‘n dokter sou benodig nie.

Die volgende oggend het die nuus gekom dat Britse versterkings nader. Scheepers se manne het opgesaal en Uniondale verlaat. Hulle het skaars ‘n dag daar deurgebring, maar die besoek het die dorp behoorlik wakker geskud.

Binne kort is ‘n dorpswag georganiseer en klipforte op die omliggende hoogtes gebou. Een van daardie eenvoudige verdedigingswerke staan vandag nog bo Uniondale. Van daar af kyk ‘n mens oor die dorp, die kerk en die strate waardeur Scheepers se ruiters meer as ‘n eeu gelede beweeg het.

Dit was juis sulke plekke wat my op die motorfiets laat klim het om Scheepers se spoor deur die Suid-Kaap en Karoo te volg. Ek wou sien wat nog van sy veldtog oorgebly het: die dorpe waar hy opgedaag het, die passe waardeur sy manne beweeg het, die ou geboue en die grafte langs die pad. Dit het meer as een rit geword, en elke keer was daar iets wat my laat stilstaan het. Soms ‘n klipfort op ‘n koppie. Soms ‘n eenvoudige plek wat jy maklik sou miskyk as jy nie die verhaal daaragter geken het nie. En die wonderlike ding is dat ‘n mens steeds hierdie paaie kan volg. Jy moet net weet waarvoor om te kyk.

Die klipfort bo Uniondale. Die fort is waarskynlik kort ná Scheepers se besoek opgerig.

Die NG kerk in Uniondale. Die dorp was in Januarie 1901 onvoorbereid op die aankoms van die kommando.

Die jong kommandant

Gideon Jacobus Scheepers is op 4 April 1878 in die Middelburg-distrik van die destydse Transvaal gebore. Teen die tyd dat hy die Kaapkolonie binnegekom het, het hy reeds militêre ervaring gehad, maar was hy nog bitter jonk vir die verantwoordelikheid wat op hom gewag het.

Hy het by die artillerie gedien en hom met telegrafie en heliografie besig gehou. Dis maklik om vandag die waarde van sulke vaardighede te onderskat. In ‘n oorlog waarin ‘n boodskap ure kon neem om sy bestemming te bereik, was die man wat kommunikasie verstaan het reeds ‘n tree voor.

Teen die einde van 1900 het die groot veldslae van die oorlog plek gemaak vir ‘n ander soort stryd. Die Britse leër het belangrike dorpe en spoorweë beheer, maar kleiner Boerkommando’s het aangehou beweeg. Hulle het spoorlyne beskadig, poskantore aangeval, perde en voorrade opgekommandeer en verdwyn voordat ‘n groter mag hulle kon vaskeer.

Scheepers het in Desember 1900 saam met Piet Kritzinger se invalsmag die Kaapkolonie binnegetrek. Dit was ‘n uitgestrekte gebied van klein dorpe, afgesonderde plase, diep valleie en bergpasse. Vir ‘n beweeglike kommando was dit tegelyk ‘n uitdaging en ‘n geleentheid.

Daar was selde tyd om ‘n dorp lank te hou. Die doel was om toe te slaan, die vyand se verbinding en beheer te versteur, en weer weg te wees. Uniondale het gewys hoe doeltreffend dié taktiek kon wees.

Avontuur: die oorlog op die poskantoor se drumpel

Scheepers se aanval op Uniondale was nie die einde van sy bewegings deur hierdie wêreld nie. Kort daarna het die oorlog ook Avontuur bereik, ‘n klein nedersetting verder oos in die Langkloof.

Die poskantoor was ‘n waardevolle teiken. ‘n Poskantoor was destyds veel meer as ‘n plek om ‘n brief te pos. Hier het boodskappe ingekom, nuus uitgegaan en die owerheid kontak met die omgewing gehou. Wanneer die verbinding verbreek is, was die dorp vir ‘n ruk op homself aangewese.

Die kommando het die poskantoor beskadig en sy spoor weer terug in die rigting van die binneland geneem. Die aanvallers het nie noodwendig baie lank gebly nie, maar die nuus van sulke besoeke het verder as die dorpe self gereis.

In Knysna, ver van enige groot slagveld, het die berigte oor Willowmore en Avontuur byvoorbeeld gehelp om die plaaslike verdediging op die been te bring. Die dorp sou later sy eie fort kry, ‘n merkwaardige bouwerk wat vandag ‘n heel ander verhaal op sy eie vertel.

Avontuur se strate lyk vandag heel anders as in Scheepers se tyd. Tog staan daar steeds ‘n poskantoor en, oorkant die straat, ‘n ouer gebou. Die oorlog het lankal aanbeweeg, maar ‘n mens kyk anders na hierdie eenvoudige dorpsgeboue wanneer jy weet dat ‘n kommando hier opgedaag het en die Britse kommunikasie probeer stilmaak het.

Die ou stoomlokomotief by Avontuur vertel weer van ‘n ander era. Die Langkloof-spoorlyn het eers ná die oorlog tot hier gevorder. Scheepers het dus nie hierdie treinspoor aangeval nie, maar sy belangstelling in kommunikasie en vervoer maak dit maklik om te verstaan waarom spoorlyne later so sentraal in die oorlog sou staan.

‘n Ouer gebou oorkant die poskantoor in Avontuur. ‘n Mens wonder of dit dalk die poskantoor van Scheepers se tyd kon gewees het.

Die stoomlokomotief by Avontuur. Die smalspoorlyn het die dorp eers ná die Anglo-Boereoorlog bereik.

Klaarstroom: die jaagtog deur Die Gang

Vroeg in Februarie 1901 het die Boere weer by Klaarstroom opgedaag, ‘n klein dorpie waar die pad na Meiringspoort begin. Vandag is dit die soort plek waar reisigers gewoonlik stadiger ry om na die ou geboue en die berge te kyk.

Destyds was daar min tyd vir bewondering van die landskap. Die kommando’s het die telegraafverbinding onderbreek en voorrade uit die regeringswinkel geneem. Volgens die ou vertelling het hulle daardie aand selfs tyd gekry vir ‘n ete by die hotel, met whisky en sigare daarby. Hulle het glo daarvoor betaal.

Op 2 Februarie 1901 het Britse patrollies uit die rigting van Prins Albert opgedaag. Hulle het nie besef hoeveel Boereryers reeds in en om Klaarstroom was nie. Toe die werklikheid duidelik word, het die soldate omgedraai en teruggeval.

Die Boere het agterna gejaag. Die jaagtog het deur die vallei bekend as Die Gang gestrek, in die rigting van Remhoogte en Kredouwpas. Dit is ruwe terrein, met heuwels en nou gedeeltes wat ‘n terugtrekkende patrollie min ruimte vir foute bied.

By Kredouwpas het die Britte ‘n beter verdedigingsposisie bereik. Hulle kon die toegangsroete met artillerie dek, en die agtervolging het daar tot stilstand gekom.

Drie name het uit die skermutseling bly voortleef: die Britse lanskorporaal John Boyd, troeper Sidney P. Gishford van Brabant’s Horse en die jong Boer Johannes Klue. Boyd is in die geveg gewond. Volgens ‘n bekende plaaslike vertelling het hy later in Wolwekloof skuiling gesoek, waar Klue op hom afgekom het. Boyd sou hom van naby geskiet het. Albei het gesterf. Ander vertellings verskil oor die presiese omstandighede, maar die drie mans se grafte herinner vandag nog aan die geveg.

Boyd en Gishford rus vandag langs mekaar by die Church of the Good Shepherd, die Anglikaanse kerkie in Klaarstroom. Boyd is oorspronklik by Wolwekloof begrawe, maar sy oorskot is later na die kerkhof verskuif. Klue se graf is steeds by Wolwekloof, op die plaas Remhoogte. Die twee Britse kruise staan so naby aan mekaar dat ‘n verbyganger hulle maklik as een gedenkplek sou beskou. Kyk egter mooi na die naamplate, want op Gishford s’n is sy van verkeerd aangebring.

Die landskap help om die verhaal verstaanbaar te maak. Wanneer ‘n mens oor Kredouwpas kyk, sien jy hoe die berge beweging stuur. Die paaie volg nog altyd die openinge wat die terrein toelaat. In 1901 was dieselfde terrein ‘n kans om weg te kom, of ‘n plek waar ‘n mens vasgekeer kon word.

Die Kredouwpas-omgewing, waar die terrein die Britse terugtog gehelp het.

Die twee Britse grafte by die Anglikaanse kerk op Klaarstroom: lanskorporaal John Boyd en troeper Sidney P. Gishford. Albei het tydens die skermutseling van 2 Februarie 1901 gesterf.

Die twee grafplaatjies. Links Boyd se naamplaat en regs dié van Gishford, wie se naam verkeerd op die kruis geskryf is.

Die oorlog beweeg verder

Die kommando’s het nie ná Klaarstroom stilgesit nie. Hulle het deur die Karoo beweeg, weer teruggeswaai, spoorlyne en toevoerroetes aangeval en Britse patrollies gedwing om oor groot afstande agter hulle aan te ry.

Vir die Britse magte was dit ‘n uitputtende soort oorlog. Jy kon ‘n dorp beset en ‘n garnisoen daar plaas, maar jy kon nie elke bergpas, plaasafdraaipad en rivierdrif gelyktydig bewaak nie. ‘n Kommando hoef net een opening te vind om weer ‘n paar dae voor sy agtervolgers te kom.

Scheepers het in Junie 1901 weer Willowmore aangeval. Hierdie keer was daar ‘n hewige geveg en die dorp se verdedigers het verliese gely. Later sou sy bewegings hom opnuut suidwaarts bring, deur die bergwêreld tussen die Karoo en die Langkloof.

Die Baviaanskloof en die Kougaberge bied ‘n mens vandag nog ‘n goeie begrip van hoe die streek ‘n beweeglike kommando kon help en terselfdertyd kon beproef. Dit is nie ‘n wêreld waar elke pad reguit na die volgende dorp lei nie. Daar is passe, steil klowe en groot afstande tussen geskikte plekke om perde en mense te laat rus.

Teen Augustus het Scheepers se manne weer die Langkloof bereik. Die gebied sou binnekort die toneel word van een van die bekendste botsings van sy latere veldtog.

Die Langkloof. Die vallei en sy bergreekse bepaal vandag nog die natuurlike bewegingsroetes.

Krakeel, Misgund en die gewone geboue van ‘n oorlog

Langs die roete deur die Langkloof lê plekname wat vandag met vrugteplase, klein winkels en padtekens verbind word: Kareedouw, Krakeelrivier, Misgund, Haarlem en Avontuur.

In 1901 was hulle deel van ‘n netwerk van nedersettings waar ‘n poskantoor of ‘n winkel veel meer beteken het as wat ‘n mens vandag sou dink. Daar was ‘n Britse pos by die Waboomsrivier, in die omgewing waar Joubertina later sou ontwikkel. Klein groepe ruiters kon hier met die soldate bots en dan langs die vallei aanbeweeg.

Die oorlog het selfs Krakeelrivier se poskantoor bereik. Dis maklik om vandag verby die ou geboue en paaie te ry sonder om te dink hoe groot die verlies van een poskantoor vir ‘n afgesonderde gemeenskap kon wees. Vir ‘n tyd lank was nuus iets wat nie meer vanselfsprekend deur die vallei kon beweeg nie.

Verder wes, by Misgund, het ‘n ander groep Boere onder Piet van der Merwe toegeslaan. ‘n Winkel en ‘n woning is daar vernietig. Die naam van Stone se winkel en die sogenaamde Dry Hotel duik nog in vertellings oor die oorlog op. Langs die pad staan vandag steeds ‘n opvallende wit gebou, een van daardie plekke wat ‘n mens twee keer laat kyk wanneer jy van die geskiedenis weet.

Dis nie moeilik om te verstaan waarom hierdie aanvalle soveel aandag getrek het nie. Die oorlog het nie net op slagvelde plaasgevind nie. Dit het ook by ‘n poskantoordeur, ‘n winkeltoonbank en ‘n plaashek aangekom.

Daar is selfs ‘n plaaslike verhaal oor Ongelegen, waar ‘n boer glo geweier het dat Britse soldate sy stalle gebruik. Hulle sou sy naam in die amptelike boeke aanteken, het die soldate gedreig. Volgens die oorlewering het die boer geantwoord dat hulle dit dan maar met hoendermis kon doen. Of die woorde presies só gebruik is, is minder belangrik as die gees van die storie: in hierdie vallei het die oorlog ook mense se alledaagse geduld behoorlik getoets.

Die kliphuise, afdraaipaaie en vrugteboorde is vandag meestal deel van ‘n rustige landskap. Maar agter die gewone plekname skuil ‘n geskiedenis van ruiters wat kom en gaan, boodskappe wat nie hul bestemming bereik nie en families wat nooit geweet het wie die volgende dag by hul hek sou opdaag nie.

‘n Ou gebou in die Krakeel-omgewing. Die soort plek wat jou laat wonder hoe die dorp in die dae van die kommando’s gelyk het.

‘n Opvallende wit gebou by Misgund. Ons weet nie of die historiese Dry Hotel nog staan nie, maar as dit wel die geval is, wonder ‘n mens of dit dalk hierdie gebou kon wees.

Boorde en ‘n opstal by Ongelegen, waar ‘n plaaslike oorlewering oor ‘n koppige boer voortleef.

Die geveg naby Avontuur

Op 19 Augustus 1901 het die agtervolging ‘n besliste draai in die Langkloof geneem. Die 10th Hussars het Scheepers se kommando naby Avontuur aangeval. Teen dié tyd het die kommando tot ongeveer 270 man gegroei.

Die Britse ruiters het oor die berge uit die rigting van Uniondale gekom, in die hoop om die Boere vas te keer. Maar Scheepers se manne het teruggeslaan, en die aanvallers moes teen die hellings terugval. Drie Britse soldate het in die geveg gesneuwel: sersant-majoor W. Clarke en troepers Brassington en W. Saunders.

Daar word ook ‘n storie vertel van ‘n seuntjie, bekend as Gesiggie, wat saam met die kommando beweeg het. Volgens die vertelling het hy vier Britse soldate agter ‘n bos gewaar en hulle sonder ‘n eie geweer laat oorgee. Dis een van daardie klein oorlogsverhale wat mense onthou, juis omdat dit so onwaarskynlik klink. Dit bly ‘n oorlewering, maar een wat iets sê van die stories wat om hierdie kommando ontstaan het.

Die geveg is nie heeltemal uit die landskap verdwyn nie. Langs die R339, tussen Uniondale en die R62, staan ‘n gedenkteken wat aan die botsing herinner. Reisigers kyk hier gewoonlik na die bergwêreld en die pad wat oor die ou pas kronkel. Min besef dat die roete ook deel van ‘n gewapende agtervolging was.

Die sandsteen-gedenkteken langs die R339, waar ‘n mens vandag nog kan stilhou en ‘n stukkie van die 1901-veldtog ontdek.

‘n Inskripsie wat aan die verhaal van die jong ‘Gesiggie’ herinner.

Nog ‘n klippaneel dra die name van soldate wat hier herdenk word.

Scheepers het ná die geveg verder weswaarts beweeg. Sy kommando was nog nie gevange nie. Die Suid-Kaap het egter reeds goed geweet dat die jong kommandant deur dié deel van die Kaapkolonie getrek het.

Die laaste perdepad

Van die Langkloof het die spoor na die Klein Karoo en die distrik rondom Oudtshoorn en Prins Albert gelei. Die mans het deur ‘n wêreld beweeg waarin die dorpe ver uitmekaar gelê het en elke rusplek saak gemaak het. Waar ‘n mens vandag binne ‘n uur tussen dorpe kan ry, moes die kommando sy tempo aan perde, terrein en voorraad aanpas.

Die uitgestrekte landskap van die Prins Albert-distrik, waardeur Scheepers en sy manne in die laaste fase van die veldtog beweeg het.

Teen September 1901 was Scheepers en sy manne steeds aan die beweeg. Hulle het nie net met Britse patrollies te doen gehad nie. Elke dag het kos, water, rus vir die perde en ‘n veilige volgende roete geverg. Die kommando se grootste voordeel was sy beweeglikheid, maar dit het van die mense én hul diere ‘n tol geëis.

Teen Oktober het iets verander. Scheepers het ernstig siek geword. Hy wat sy kommando deur honderde kilometers se moeilike terrein gelei het, kon nie meer behoorlik te perd saamry nie. Die manne het hom per wa vervoer, maar die gevaar dat die Britse agtervolgers hulle sou inhaal, het al groter geword.

By Koppieskraal, in die Prins Albert-distrik, het die kommando sy siek bevelvoerder agtergelaat sodat hy hulp kon kry. ‘n Britse patrollie het hom daar aangetref. Vir die jong man wat soveel keer aan ‘n groter mag ontkom het, was daar dié keer geen volgende pas waaragter hy kon verdwyn nie.

Die veldtog deur die Kaapkolonie was verby. Die paaie is egter nog daar. Wie nuuskierig genoeg is om stil te hou en rond te kyk, sal ontdek: daar is stories oral om ons.

Vir Scheepers self het daar nog ’n laaste reis voorgelê, deur die Karoo se spoorwegstasies en hospitale tot in Graaff-Reinet.

Lees verder:
Die laaste spoor van Gideon Scheepers (Deel Twee) →

The road takes you there.
The story gives the journey meaning.

Ultimate Journey explores the roads, places, people and history hiding in plain sight across South Africa.