ULTIMATE JOURNEY • Klein Karoo

Op soek na die Watermeid

Waarom vertel mense stories van ’n Watermeid in een van Suid-Afrika se droogste streke? ’n Soektog op ’n motorfiets het my na die waterpoele, mense en ou vertellings van die Klein Karoo geneem.

Story & photographs: Johann van Tonder
Klein Karoo, Western Cape


Die Watermeid het lank voor my eerste soektog al met my paaie gekruis.

Dit was my troudag in November 1996 toe die reën begin val het. En dit het nie sommer opgehou nie. In die dae daarna het die Olifantsrivier afgekom, Oudtshoorn en die omliggende distrik is oorstroom en groot dele van die pad deur Meiringspoort is weggespoel. Selfs van ons trougaste moes lang ompaaie ry om huis toe te kom.

Terwyl mense nog probeer uitwerk het presies hoeveel skade die water aangerig het, het ’n heel ander storie begin loop. Die Watermeid wat glo in die diep poel by die Meiringspoort-waterval woon, is deur die vloed meegesleur. Sy het, so is vertel, tot by die see gespoel, waar sy by Mosselbaai uitgevis en na die CP Nel Museum op Oudtshoorn geneem is.

’n Meermin in die Karoo? Dis tog die soort storie wat ’n mens nie sommer kan laat verbygaan nie.

Wat my later veral begin pla het, was nie die vraag of iemand werklik ’n visvrou in die see uitgevis het nie. Dit was iets veel interessanter: Waarom vertel mense in een van die droogste dele van Suid-Afrika soveel stories van ’n geheimsinnige vrou wat in die water woon?

Ek het besluit om die spoor te volg. Die motorfiets sou my by die plekke uitbring. Vir die antwoorde sou ek met die mense moes gesels.

Die Watermeid in die kloktoring

Soos ek die storie onthou, het iemand tydens die vloed op die radio geskerts dat die Watermeid sekerlik see toe gespoel is. Daarna was daar berigte op Suid-Kaap Stereo dat sy gevind en na die CP Nel Museum geneem is. Die storie het ook RSG bereik en toe begin die moeilikheid.

Die museum se telefoon het gelui. Mense wou weet waar die Watermeid is, wanneer hulle haar kan sien en of die museum haar regtig in ’n tenk aanhou. Besoekers het van ver gekom. Sommige was glo hoogs ongelukkig toe daar niks was om te wys nie.

Die museumpersoneel het toe ’n plan gemaak: ’n winkelpop met ’n selfgemaakte visstert is in die kloktoring uitgestal. Die storie het net groter geword. Volgens ’n koerantberig wat later oor die voorval verskyn het, het meer as 2 000 mense die museum kom besoek. Selfs die polisie het ’n rol in die uiteindelike afloop gespeel.

Êrens in dié opgewondenheid het die Watermeid ook ’n naam gekry: Eporia. En sy het nie net by ’n museumstorie gebly nie. Sy het in kuns, op die verhoog en in nuwe vertellings verder geleef.

Jare daarna het ek saam met my seun by die museum gaan aanklop. Ons wou natuurlik die beroemde Watermeid sien. Sy was nie meer in die toring nie, maar die personeel was vriendelik genoeg om haar uit die stoor te gaan haal.

Daar was sy toe. Die Watermeid van die Klein Karoo. ’n Winkelpop met ’n visstert.

Johann se seun staan saam met die museummedewerker en Eporia, die winkelpop met die selfgemaakte visstert.
My seun saam met die man wat Eporia, die winkelpop met die selfgemaakte visstert, uit die CP Nel Museum se stoor gaan haal het.

Ons het dus ’n Watermeid gesien nog voordat die eintlike soektog behoorlik begin het. Dit was ’n belowende begin, maar ek het geweet die interessantste deel van die storie lê buite die museum se mure.

Rooiwalle en ’n bietjie aas

Een van die verhale ná die vloed het my na Rooiwalle gelei. Daar is vertel dat iemand weer met die Watermeid in aanraking gekom het nadat sy, volgens die museumstorie, na die rivier teruggekeer het. Die rooi rotswande en die water gee aan die plek ’n besonderse karakter. Dit was nie moeilik om te sien hoe ’n verhaal hom aan só ’n plek kon vasheg nie.

By Eseljagtspoort het die soektog meer doelgerig geraak. Ek het my jongste seun saamgeneem. Volgens een van die ou stories was kinders juis in gevaar by die Watermeid se poele. Ek het dus droogweg geredeneer dat ’n mens seker ’n bietjie aas nodig het as jy iets wil vang.

Hy het darem die grap oorleef. Ons het niks gevang nie.

Wat ons wel gekry het, was die soort plek waarvan die vertellings praat: watergate tussen die rotse, donker water in die dieper dele en riete langs die oewer. Dit het kort tevore goed gereën en die Klein Karoo was onverwags groen. Selfs die waterkruisings op die grondpaaie het ’n bietjie ekstra pret verskaf.

Ek het iets begin opmerk. Die Watermeid se naam het telkens opgeduik waar water diep lê, waar riete dig groei of waar ’n rivier deur ’n nou poort moet kom. Dit was nie noodwendig die grootste of mooiste plekke nie. Dit was dikwels die plekke waar jy nie heeltemal seker is wat onder die oppervlak skuil nie.

Eseljagtspoort het boonop ’n veel ouer Watermeid-storie as dié van die museum. Daardie spoor sou ek later in die navorsing weer raakloop.

Die man by die tuinhekkie

Ons het deur die Klein Karoo na Dysselsdorp aangery. Daar het ek ’n man by sy tuinhekkie sien staan en die wêreld dophou. Ek het gestop vir ’n geselsie.

Sy naam was Samuel Levin.

Samuel Levin staan met ’n grys hoed langs die pad in Dysselsdorp.
Samuel Levin van Dysselsdorp het vertel hoe die Watermeid-stories aan mense se herinneringe en verlies gekoppel is.

Samuel het van kleins af in Dysselsdorp grootgeword, al was hy nie daar gebore nie. Hy het die Watermeid-stories goed geken. Maar dit was nie vir hom bloot ’n storie uit ’n boek nie. Hy het vertel dat sy swaer in die Olifantsrivier verdrink het. Volgens Samuel kon die man swem, maar het hy onder die water verdwyn en moes duikers later sy liggaam uitbring.

Samuel het die verdrinking aan die Watermeid toegeskryf. Die gesprek het gewys hoe naby hierdie oorlewering aan mense se werklike verdriet lê. Samuel was ook bekommerd oor sy kleinkinders wat by die rivier speel. Hy het ons na die omgewing van die watergat verwys.

Die plek was op privaat grond, en ons het eerder by die plaashuis gaan toestemming vra as om sommer deur te ry. Die boervrou het ook die stories geken en het ons na ’n ander diep poel geneem, waar water vir besproeiing gepomp is. Sy het vertel dat niemand die diepte behoorlik geken het nie en dat iemand jare tevore daar verdrink het.

Die poel was donker en diep genoeg om ’n mens te laat verstaan waarom sulke plekke ’n reputasie kry. Daar was weer riete.

Op die pad terug het ek besef hoe die ondersoek begin verander. Ek het nog nie ’n Watermeid gesien nie, maar ek het mense ontmoet vir wie die verhale iets persoonliks beteken. Die vraag was nie meer net waar die Watermeid woon nie. Dit was ook waarom soveel mense by dieselfde soort waterplekke aan haar dink.

Die poel in Meiringspoort

’n Mens kan nie hierdie spoor volg sonder om deur Meiringspoort te ry nie.

Daar was sneeu op die Swartberg en die pad deur die poort was net so mooi soos ek dit onthou het: rotswande wat hoog bo die teer verrys, skerp draaie en die rivier wat sy pad deur die klowe soek. Op ’n rustige dag is dit amper ondenkbaar dat dieselfde water die pad so geweldig kan verniel wanneer die rivier in vloed is.

Dit was hier waar ek weer aan ’n besonderse storie gedink het wat ek tydens die navorsing raakgelees het: Antoinette Pienaar se “Hoe Meiringspoort gemaak is”.

Antoinette, die bekende Karoo-storieverteller, aktrise en sangeres wat ook gereeld op RSG te hoor was, het aan Eporia ’n hele wêreld gegee. In haar vertelling woon die Watermeid in ’n poel in die Klein Karoo. Die diere kroon haar as hulle koningin en sy raak bevriend met Absolom, ’n skaapwagter. Gamka, die laaste Kaapse leeu, heers met waardigheid oor die diereryk.

Dan kom jagters en vernietig die vrede. Selfs Gamka word doodgemaak. Eporia se hartseer verander in woede en sy roep die waters bymekaar. Die vloed sleur deur die berge, skeur die aarde oop en vorm die poort.

Dis ’n wonderlike beeld. Die geskiedenis vertel ons hoe die pad deur Meiringspoort gebou is. Antoinette se storie vertel hoe die poort self, in die wêreld van Eporia, ontstaan het. Ek het ook gelees dat sy die figuur in ’n verhoogproduksie met die naam Eporia uitgebeeld het. Só kry ’n plaaslike Watermeid ’n lewe ver anderkant die oorspronklike poel.

By die bekende waterval het ek die paadjie opgestap tot by die diep poel. Die waterval is sowat 60 m hoog en die poel daaronder word op ongeveer 9 m diep gestel, hoewel die verhaal dat dit bodemloos is al lank bestaan. Die paadjie na die waterval is reeds in 1925 vir ’n besoek deur die Prins van Wallis ingerig.

Daar tussen die gladgeskuurde rotse lyk die poel se donker water anders as die helder water wat verder af oor die klippe loop. Die poel het ’n eie atmosfeer. As ek ’n Watermeid was, sou ek ook kon verstaan waarom hierdie een van die gewildste adresse is.

By die rusplek het ek met Katrina Koorts gesels. Sy het die geskiedenis van die poort geken en het alles van die Watermeid-storie geweet. Maar op die vraag of sy self glo, was haar antwoord eenvoudig nee. Hoekom nie? Want meerminne bestaan nie, het sy gereken.

Katrina Koorts met donker kopbedekking voor ’n klipmuur.
Katrina Koorts by Meiringspoort het die stories geken, maar was self nie van die Watermeid oortuig nie.

Ek moes glimlag. Hier werk iemand by een van die beroemdste Watermeid-poele in die Karoo, en vir haar was die saak lankal afgehandel.

Verder langs die pad sou ek ’n heel ander antwoord kry.

Jan Arries se waarskuwing

By Boesmansdrif het ek Jan Arries van De Rust ontmoet. Hy was besig om hout bymekaar te maak toe ek by hom stilhou. Jan het die Watermeid goed geken, al het hy gesê dat hy haar nog nooit self gesien het nie. Hy was ook nie juis gretig om haar te ontmoet nie.

Jan Arries in blou werksklere staan langs sy rooi fiets.
Jan Arries van De Rust, afgeneem saam met sy rooi fiets by Boesmansdrif.

Jan het my vertel van twee vriende wat volgens hom verdrink het, die een by Meiringspoort en die ander by Stompdrift Dam. Albei kon swem, het hy gesê, en in albei gevalle moes duikers die liggame herwin. Jan het geglo die Watermeid was daarvoor verantwoordelik.

Ek het later ook by Stompdrift gaan kyk. ’n Dam lyk op die oog af na ’n heel ander wêreld as ’n natuurlike poel tussen berge, maar hier was dieselfde elemente: diep water, ’n verhaal van verlies en iemand wat die Watermeid se naam daarmee verbind.

Dit was opvallend hoe verskillend die mense oor haar gepraat het. Vir Katrina was sy bloot ’n storie. Vir Samuel en Jan was sy verweef met mense wat hulle geken het. En tog was ek steeds op soek na iemand wat kon vertel dat hy haar met sy eie oë gesien het.

Meerminne op die rotswande?

Toe neem die soektog ’n draai wat ek glad nie verwag het nie: rotskuns.

In die Klein Karoo is daar San-skilderye met figure wat vir die moderne oog amper soos mense met visagtige onderlywe kan lyk. Sommige het arms, ander lyk asof hulle vlerke het, en die hele voorstelling is heelwat vreemder as die bekende meerminprentjie van ’n sprokiesboek.

Rooi geskilderde figure op ’n verweerde Klein Karoo-rotswand.
Rotskuns uit die oorspronklike Klein Karoo-ondersoek. Die betekenis van sulke figure is deur navorsers op verskillende maniere vertolk.

Die bekende Ezeljagdspoort-skildery met sy mensagtige figure en gevurkte sterte kan intussen op Bruce Rimell se webwerf besigtig word.

Ek het by Prince Albert met Judy Maguire en John Begg gesels, wat baie goed bekend was met die gebied se geologie, fossiele en erfenis. Hulle het gedink van die figure lyk eerder soos swaels of windswaels, voëls wat mense met reën verbind. Wanneer ’n mens sekere van die rotskuns sien, is dit nie ’n vreemde verklaring nie.

Maar daar was ander figure wat my laat wonder het. Een het gelyk asof hy iets in sy hand hou, amper soos ’n fluit. Ek het uiteindelik met toestemming van die betrokke grondeienaars ’n paar rotskunsplekke besoek. Die ervaring was veel meer indrukwekkend as om ’n afdruk in ’n boek te sien. Voor jou is die rotswand, die ou verfspore en die omgewing waarin mense lank voor ons hul verhale en geestelike wêreld uitgebeeld het.

Die Ezeljagdspoort-skilderye is reeds in die 1830’s gekopieer. In die jare daarna het verskillende navorsers uiteenlopende verklarings gegee. Sommige plaas die figure binne die konteks van San-rituele, trans en reënmaak. Dr Renée Rust het ook aandag gegee aan visagtige kenmerke en aan die besondere betekenis van water in die streek se oorlewering.

Meer onlangs het Rust en ander navorsers selfs die moontlikheid ondersoek dat sekere figure fluite bespeel. Ek moes terugdink aan die vreemde figuur wat my jare tevore laat stilstaan het.

Ek dink nie ’n mens kan met ’n vinnige kyk besluit presies wat elke figuur beteken nie. Dis kuns uit ’n wêreld waarvan ons vandag net dele verstaan. Maar die verband tussen water, reën, menslike figure en die verhale van die streek het die soektog nog interessanter gemaak.

Die plekke self is kwesbaar. Daarom bly die presiese liggings van die rotskuns wat ek besoek het, uit hierdie verhaal.

En toe kry ek uiteindelik die kans om met iemand te praat wat sê hy het die Watermeid self gesien.

Maans Fourie se Watermeid

Die spoor het my na Amalienstein, langs Zoar op die R62, geneem. Ons was vier motorfietsryers toe ons by Maans Fourie se huis aankom. Maans het ons hartlik ontvang en geduldig na ons vrae geluister.

Hy het vertel dat hy as seuntjie hout in ’n kloof naby die dorp gaan haal het. By ’n waterval het hy ’n vrou op ’n rots gesien. Volgens Maans was sy buitengewoon mooi, met lang swart hare, blou oë en die bolyf van ’n vrou. Haar onderlyf het egter soos dié van ’n vis gelyk.

Sy grootouers het hom al van Watermeide vertel en hy het geweet hy moet liewer nie nader gaan nie. Hy het agteruit begin tree. Die figuur het, soos hy dit onthou het, vir hom gewaai en in die water verdwyn.

Maans het gesê hy het haar ’n paar jaar later weer by dieselfde plek gesien.

Natuurlik wou ons weet hóé mooi hierdie Watermeid dan was. Maans het na een van die vroue in ons geselskap gekyk en beduie sy lyk soos sy, net mooier. Die opmerking het ons laat lag, maar ons vriendin het dit goed opgeneem.

Daar was ook meer ernstige vrae. Maans het vertel dat Watermeide nie daarvan hou as mense hul water versteur nie. Volgens ’n ander plaaslike verhaal het een uit die rivier naby die dorp padgegee omdat mense gereeld daar wasgoed gewas het.

Hy het ook anders as Jan Arries oor verdrinkings gepraat. Volgens Maans neem die Watermeid mense na haar eie wêreld onder die water. Dit was hoe hy die verhale van mense wat verdwyn, verstaan het.

Wat my by Maans getref het, was nie ’n poging om iemand te oortuig nie. Dit was die eenvoud en opregtheid waarmee hy sy ervaring vertel het. Hy het ons by sy huis ontvang, ons vrae beantwoord en gepraat van iets wat vir hom deel van sy lewe was.

Hy was boonop nie die eerste keer besig om die storie te vertel nie. Die rolprentmaker Wendy Hardie het hom vroeër ontmoet vir haar dokumentêr Searching for Mermaids in the Karoo, wat in 2007 op die SAUK vertoon is. Sy het hom as Hermanus Fourie geïdentifiseer en aangeteken dat hy volgens sy herinnering agt was toe hy die Watermeid die eerste keer sien en twaalf by die tweede ontmoeting. Die rotskunsnavorser Renée Rust het ook reeds in 2005 en 2006 met hom gepraat.

Hy het selfs aangebied om vir ons die plek te gaan wys. Ongelukkig was ons almal op motorfietse en daar was nie ’n ekstra sitplek vir hom nie. Daardie dag het ons dus sonder ’n foto van sy waterval vertrek.

Maar ek het geweet ons het iets kosbaars gekry. Nie ’n bewysstuk of ’n sensasie nie. ’n Mens wat bereid was om vir vreemdelinge iets te vertel wat vir hom werklik betekenis gehad het.

’n Storie wat lank voor Eporia vertel is

Dieper in die navorsing het ek op ’n veel ouer vertelling afgekom.

In die negentiende eeu het ’n man wat as Afrikaander bekend gestaan het, aan D. Ballot van Molensrivier stories van watervroue vertel. Een daarvan het met Eseljagtspoort verband gehou. Die wesens is beskryf as magtige, gevaarlike bewoners van die water, wat mense kon gryp en ondertoe neem.

Die vertellings is in die negentiende eeu opgeteken en het later deel van akademiese navorsing oor die streek geword. Dit is dus nie ’n storie wat eers met die 1996-vloed of ’n museum se winkelpop begin het nie. Lank voor die moderne naam Eporia die verbeelding aangegryp het, het mense reeds oor die geheimsinnige inwoners van die Klein Karoo se water gepraat.

Selfs die woord Watermeid dra meer as een wêreld saam. Dit herinner aan die Europese meermin, maar die stories wat ek gehoor het, gaan dikwels eerder oor ’n kragtige waterwese as oor ’n mooi vrou met ’n visstert. Sy kan mense lok, die water bewaak, kwaad word wanneer haar plek versteur word of na ’n ander waterplek trek. En twee mense wat in dieselfde streek grootgeword het, vertel nie noodwendig dieselfde verhaal nie.

Daarin lê juis die bekoring van mondelinge oorlewering: die verhaal leef saam met die mense wat dit vertel.

Waarom juis hier?

My soektog het later selfs tot by Nieu-Bethesda gestrek. In die Uilhuis van Helen Martins en Koos Malgas is daar ook meerminfigure, tussen al die ander vreemde en wonderlike skeppings. Dis nie noodwendig dieselfde tradisie as dié van die Klein Karoo nie, maar dit was nog ’n plek waar die meermin onverwags in die binneland opduik.

Grys meerminbeeldjie met blou oë tussen wit blommetjies in die Uilhuis in Nieu-Bethesda.
’n Meerminbeeldjie by die Uilhuis in Nieu-Bethesda. Ook hier duik die meermin onverwags in die Karoo op.

Wanneer ek vandag aan die hele ondersoek terugdink, sien ek nie in die eerste plek die museum se winkelpop of die rotskuns nie. Ek dink aan die mense.

Aan Katrina by Meiringspoort, wat eenvoudig nie in meerminne geglo het nie. Aan Jan langs die pad en Samuel by sy tuinhekkie, vir wie die stories aan bekende mense en werklike verlies verbind was. En aan Maans, wat in sy huis vir ons vertel het van die vrou met die lang swart hare by die waterval.

Miskien is dit juis in ’n droë land dat water soveel plek in mense se verbeelding inneem. ’n Diep poel kan lewe gee, maar ook gevaar inhou. ’n Rivier wat die grootste deel van die jaar rustig vloei, kan ná ’n paar dae se reën brûe en paaie wegvat. En om die plekke waar water lê, ontstaan stories wat van een geslag na die volgende oorgedra word.

Party van die vertellings het sekerlik ook kinders gewaarsku om weg te bly van diep water. Maar om die Watermeid net as ’n waarskuwingsverhaal af te maak, is om ’n groot deel van die storie mis te kyk. In dié verhale is daar vrees en verwondering, humor en hartseer, herinneringe aan mense wat nie meer daar is nie en ’n besondere verhouding met die landskap.

Die Watermeid bestaan in die stories, in die herinneringe en in die verbeelding van die mense van die Karoo. Of ’n mens haar ooit in ’n poel gaan sien, is eintlik nie meer die belangrikste vraag nie. Sonder haar sou daardie poele, riviere en klowe iets van hul betekenis verloor.

Ek het op die motorfiets vertrek om ’n Watermeid te gaan soek. Wat ek gevind het, was ’n streek vol stories wat net wag dat iemand stilhou en luister.

Daar is stories oral om ons.

The road takes you there.
The story gives the journey meaning.

Ultimate Journey explores the roads, places, people and history hiding in plain sight across South Africa.