ULTIMATE JOURNEY • South Africa

Skattejag!

Daar is versteekte skatte oral om ons, selfs in jou eie dorp! Ontdek hoe geocaching werk, hoe 'n klein Travel Bug die wêreld vol reis en waarom die grootste beloning dikwels die plekke is wat jy onderweg ontdek.

Story & photographs: Johann van Tonder
South Africa

“Stop die horlosie!”

Ons ouer lesers sal seker nog onthou hoe Scot Scott destyds op die TV-program Skattejag uit helikopters gespring, oor berge geklim en in riviere geduik het om ‘n versteekte skat op te spoor.

Dit was ‘n gejaag teen die tyd, met leidrade wat ontsyfer moes word en avonture wat die kykers behoorlik op die punt van hul stoele gehou het.

Wel, vandag kan jy ook aan ‘n wêreldwye skattejag deelneem. En die lekkerste is dat jy nie uit ‘n helikopter hoef te spring nie!

Die stokperdjie staan bekend as geocaching, en dit is een van die lekkerste maniere om onbekende plekke te ontdek, selfs in jou eie dorp.

‘n Wêreld vol versteekte skatte

Geocaching is ‘n internasionale skattejagspeletjie waarin deelnemers GPS-koördinate gebruik om versteekte houertjies, bekend as geocaches, op te spoor.

En glo my vry, waar jy ook al nou sit en lees, is daar waarskynlik ‘n skat iewers nie te ver van jou af nie!

Die houertjies kom in alle vorms en groottes voor. Party is so klein dat daar net ‘n opgerolde stukkie papier inpas waarop jy jou naam kan skryf.

Ander is groter plastiekhouers of selfs ammunisiekiste, met logboeke, klein speelgoedjies en allerhande interessante voorwerpe wat deelnemers met mekaar kan uitruil.

Dis nogal ‘n lekker gevoel wanneer jy ná ‘n bietjie rondsoek uiteindelik daardie goed versteekte houertjie ontdek.

Oop geocache-houer met logboek en klein voorwerpe wat uitgeruil kan word
Daar’s hy! ‘n Geocache-houer met ‘n logboek en allerhande klein skatte.

Wanneer ‘n skat self op reis gaan

As jy gelukkig is, kan jy selfs ‘n sogenaamde Travel Bug in ‘n geocache ontdek.

Dit is ‘n voorwerp met ‘n unieke opsporingsnommer wat van een geocache na ‘n ander reis, met die hulp van mense wat dit langs die pad optel en weer elders neersit.

Elke Travel Bug het sy eie aanlyn geskiedenis. Jy kan sien waar dit oorspronklik begin het, waarheen dit al gereis het en watter avonture dit onderweg beleef het.

Ons het self ook een op sy reis gestuur.

Toe ek hierdie artikel oorspronklik geskryf het, het ons Travel Bug reeds ‘n verstommende 72 673,3 km afgelê!

Hy het onder meer Amerika, Europa, Japan en Nieu-Seeland besoek en was op daardie stadium in Australië.

Dink net daaraan. ‘n Klein voorwerp wat oor die wêreld reis terwyl jy vanuit jou eie huis sy avonture kan volg.

Dis amper soos om ‘n eie klein ontdekkingsreisiger op pad te stuur.

Rooi speelgoedmotor met 'n Travel Racer-opsporingsplaatjie
Die klein Travel Racer met sy opsporingsplaatjie. Sulke voorwerpe kan van skat na skat reg oor die wêreld reis.

Maar die eintlike skat is iets anders

Wat geocaching vir my besonders maak, is nie noodwendig wat jy in die houertjie kry nie.

Dis die plekke waarheen dit jou neem.

‘n Geocache kan in ‘n park, tussen rotse, langs ‘n bergpaadjie of by ‘n interessante historiese plek versteek wees.

Soms is dit ‘n plek waar jy al honderde kere verbygery het sonder om ooit te besef wat daar wegkruip.

Ander kere beland jy op ‘n grondpad of staproete waarvan jy nie eens geweet het nie.

En dit is waar die ware avontuur begin.

Dit is ook ‘n uitstekende manier om die kinders uit die huis te kry. Skielik is ‘n gewone stap deur die bos nie meer net ‘n stap nie, maar ‘n opwindende soektog na ‘n geheimsinnige skat.

Selfs die grootste klaer vergeet sommer gou van die afstand wanneer daar dalk iets agter die volgende rots versteek is!

Kinders verken sandsteenrotse tydens 'n uitstappie
Wanneer daar ‘n skat iewers wegkruip, raak selfs ‘n gewone uitstappie tussen die rotse ‘n avontuur.
Gesin stap deur 'n skaduryke bospaadjie tydens 'n uitstappie
Soms is die mooiste ontdekking nie die skat nie, maar die paadjie wat jou daarheen neem.

Hoe begin jy?

Dis eintlik baie eenvoudig.

Besoek www.geocaching.com en registreer vir ‘n gratis rekening.

Laai daarna die amptelike Geocaching-toepassing op jou selfoon af. Dit is beskikbaar vir Android en iPhone.

Die toepassing wys waar geocaches in jou omgewing versteek is, gee aanwysings na hul GPS-koördinate en bevat dikwels leidrade om jou met die soektog te help.

Jy kan gratis begin, hoewel sommige skatte en bykomende funksies ‘n betaalde Premium-lidmaatskap vereis.

Kies ‘n maklike geocache naby jou en gaan soek!

Wanneer jy die houertjie kry, maak jy dit oop en skryf jou naam en die datum in die logboek. Daarna teken jy jou ontdekking ook op die toepassing aan.

Maak die houer weer sorgvuldig toe en sit dit presies terug waar jy dit gekry het, sodat die volgende persoon ook die pret kan hê om dit te ontdek.

As daar klein voorwerpe in is, mag jy gewoonlik iets neem, mits jy iets van soortgelyke waarde terugplaas. Travel Bugs werk anders en moet volgens hul eie reisdoel aangestuur word.

En onthou om jou eie pen saam te neem. Party houertjies is heeltemal te klein om een te bêre!

Respekteer natuurlik privaat eiendom, natuurreservate en enige toegangsbeperkings. Die uitdaging is om ‘n skat te ontdek, nie om iewers in die moeilikheid te beland nie.

Die wêreld lê en wag

Jy hoef nie ver te reis of baie geld te bestee om ‘n bietjie avontuur te beleef nie.

Selfs wanneer jy nie met vakansie kan gaan nie, kan geocaching jou na plekke in jou eie omgewing neem wat jy nog nooit raakgesien het nie.

En dit is eintlik die lekkerste deel van die hele speletjie.

Die skat in die houertjie is dalk maar net ‘n goedkoop speelgoedmotor of ‘n stukkie papier.

Maar die plek wat jy ontdek het, die staproete wat jy gevolg het en die herinneringe wat jy saam met jou gesin gemaak het, kan baie meer werd wees.

Nou ja, waarvoor wag jy?

Daar is skatte oral om ons.

Jy moet hulle net gaan soek!

Lekker speel!

The road takes you there.
The story gives the journey meaning.

Ultimate Journey explores the roads, places, people and history hiding in plain sight across South Africa.