Pepsi Pools
'n Natuurlike bergpoel met water so donker soos Pepsi, 'n klein waterval en 'n mooi staproete deur die bos. Ontdek Pepsi Pools, een van George se besonderse natuurjuwele, sommer op die dorp se voorstoep.
Wie die naam Pepsi Pools uitgedink het, weet ek nie. Waarom die natuurlike poele so gedoop is, is egter dadelik duidelik wanneer jy daar aankom.
Die bergwater is donkerbruin, amper soos ‘n glas Pepsi, met borreltjies en skuim waar dit oor die rotse stort.
Coke Poele sou seker nie dieselfde impak gehad het nie.
Brandewyndam sou nogal ‘n alternatief kon wees. Des en Dawn Lindberg sou dalk ‘n liedjie daarvan kon maak!
Maar wat die plek ook al genoem word, dit bly een van daardie besonderse klein natuurjuwele wat sommer hier op George se voorstoep wegkruip.
‘n Klein paradys tussen die bome
Die Pepsi Pools lê in die voetheuwels van die Outeniquaberge, in die omgewing van Saasveld, waar die Swartrivier deur ‘n pragtige, rotsagtige klofie vloei.
Hier tuimel die water oor groot rotse en vorm natuurlike poele, omring deur inheemse plantegroei en bome.
Die donker kleur van die water, die wit skuim en die rotse skep ‘n besonder mooi kontras.
En op ‘n warm somersdag is daar min dinge so aanloklik soos ‘n koel bergpoel nadat jy ‘n ent gestap het.

Die stap is deel van die lekker
Toe ons die poele destyds besoek het, het ons vanaf die Nelson Mandela Universiteit se Saasveld-kampus gestap.
Die roete neem jou deur plantasies en natuurlike plantegroei, met die geluid van lopende water wat jou uiteindelik na die poele lei.
Dit is nie ‘n groot bergklim-ekspedisie nie, maar eerder die soort uitstappie waarvoor ‘n mens ‘n rugsakkie met iets te ete, genoeg water en ‘n handdoek pak.
En natuurlik jou kamera.
Daar is vandag verskillende maniere om die poele te bereik.
Die korter roete vanaf Saasveld is gewild, terwyl daar ook ‘n langer staproete vanaf die Tuinroete-dam is. Laasgenoemde is ongeveer 11,7 km heen en terug en neem jou deur plantasies en mooi inheemse bosgedeeltes.
‘n Ander moontlikheid is om vanaf die Tuinroete Botaniese Tuin te stap, ‘n roete van ongeveer 11,5 km heen en terug.
Die toegangsreëlings by Saasveld en die toestand van die roetes kan verander. Dit is dus verstandig om vooraf die jongste inligting na te gaan.
Jy kan roetebeskrywings en kaarte op George Trails kry.
‘n Plek om net ‘n rukkie te wees
Wat Pepsi Pools so lekker maak, is die eenvoud daarvan.
Daar is geen groot toeristegeriewe, restaurante of winkels nie. Net ‘n rivier, ‘n paar enorme rotse en die skaduwee van die bome.
Jy kan op ‘n rots gaan sit, na die water luister, iets eet of op ‘n warm dag jou voete in die koel water steek.
Vir diegene wat wil swem, is dit belangrik om eers die diepte en toestand van die water na te gaan. Moenie in die poele duik of spring nie, want daar is rotse onder die oppervlak en die waterstand kan verander.
Wees ook versigtig ná swaar reën wanneer die rivier vinnig kan styg.
Maar wanneer die omstandighede reg is, is dit ‘n heerlike plek om ‘n paar uur weg van die dorp se gejaag deur te bring.

Sommer hier op ons voorstoep
Ons is nogal geneig om te dink ‘n mens moet ver ry om iets besonders te ontdek.
Intussen is daar plekke soos Pepsi Pools wat sommer ‘n kort entjie van die huis af lê.
‘n Paar kilometer se stap, ‘n bietjie vars berglug en ‘n rustige kuier langs die water.
En wanneer jy weer terugstap, besef jy dat die lekkerste deel van die uitstappie nie noodwendig die bestemming was nie, maar ook die pad soontoe.
Dis mos waaroor verkenning gaan.
En wie weet, dalk ontdek jy op pad terug nog ‘n plek waarvan jy nooit geweet het nie.
Daar is stories oral om ons.
