ULTIMATE JOURNEY • South Africa

Viva die Papierkaart

In 'n wêreld van GPS'e en selfoontoepassings het die papierkaart amper vergete geraak. Maar 'n GPS wys waar jy is, terwyl 'n kaart jou wys wat om jou is. En dis dikwels waar die beste avonture begin.

Story: Johann van Tonder
Photographs: Rob Till
South Africa

In die digitale wêreld van GPS’e, selfoontoepassings en karteringsprogramme is die goeie ou papierkaart na die agterste sitplek geskuif.

Die nuwe tegnologie kan met die druk van ‘n knoppie afstande, reistye en verskeie ander besonderhede beskikbaar stel, sodat jy jou reis tot in die fynste detail kan beplan.

Tog, as daai selfoon of GPS se battery die gees gee, is dit die ou betroubare papierkaart wat jou uit die penarie kan red.

Soos met koerante, boeke en tydskrifte is daar ‘n bekoring daaraan om ‘n regte papierkaart in jou hande te hou. Dit voel meer eg.

Iemand het eendag gesê: “‘n GPS wys waar jy is. ‘n Kaart wys wat om jou is.”

Daar is niks soos ‘n regte kaart om ‘n avontuur aan die gang te sit nie.

Motorfiets en papierkaart tydens die beplanning van 'n avontuur

Met ‘n GPS of karteringsprogram tik jy ‘n ligging of naam in. Met ander woorde, jy weet reeds daarvan.

Maar ‘n regte avontuur lê selde in die bekende.

Op ‘n kaart sien jy ander dinge raak. Soos jou oog oor die kaart dwaal, ontdek jy onbekende plekke. Plekke wat jou nuuskierig maak en prikkel om te gaan kyk.

Wat presies is daar by Toorwater, byvoorbeeld?

Kyk hierdie pad. Nooitgedagt.

Kan dit die pad in die liedjie wees?

Het jy al van Zoar gehoor?

Kom ons gaan kyk!

En skielik bevind jy jou by ‘n warmwaterbron, ‘n spoorwegsylyn waar Paljas verfilm is, ‘n asemrowende poort, ‘n pragpad tussen kanolalande deur of voor ‘n besondere Lutherse kerk.

Dit sou jy nie noodwendig met die GPS ontdek het nie, tensy jy reeds van hierdie plekke geweet het.

‘n Afdraai naby Swellendam met die naam Vaandrigsdrif het ‘n avontuur ontketen wat my verby Botlierskop in die Suid-Kaap tot by Katot Meyer in De Vlugt geneem het.

Papierkaart wat nuwe roetes en bestemmings help ontdek

Daar is mense wat ‘n veerpyltjie na ‘n kaart gooi en waar hy land, dis die bestemming.

Probeer dit nou met ‘n GPS…

Die beste dinge in die lewe is die mense vir wie jy lief is, die plekke wat jy sien en die herinneringe wat jy maak.

Lank lewe die papierkaart!

Gaan loer ‘n bietjie watter avonture wag.

The road takes you there.
The story gives the journey meaning.

Ultimate Journey explores the roads, places, people and history hiding in plain sight across South Africa.

PHOTOGRAPHS

Rob Till