ULTIMATERIDE
Love The Ride
Annual Edition 2026 · Events & Challenges
Geleenthede | Vespa se 80ste verjaardag

Vespa vier 80 jaar, George ry saam met die wêreld

Van 'n gerestoureerde 1957-model tot 'n splinternuwe Vespa 310: byna 90 bromponies het die strate van George ingevaar om agt dekades van Italiaanse styl en rygenot te vier.

'n Groot groep Vespa-ryers op rooi, wit, swart en pastelgroen bromponies tydens die verjaardagrit in George
Vespas uit verskillende eras het saam deur George gery op pad na die Outeniqua Lifestyle Centre.

Terwyl Vespa-entoesiaste regoor die wêreld die ikoniese Italiaanse bromponie se 80ste bestaansjaar gevier het, het George beslis sy deel gedoen om die mylpaal behoorlik te vier.

Nagenoeg 90 Vespas het in George byeengekom vir 'n indrukwekkende massarit wat vanaf Yorkstraat na die Outeniqua Lifestyle Centre gery het. Vir enige motor- of motorfietsentoesias was dit 'n besonderse gesig om soveel Vespas van verskillende eras saam op die pad te sien.

Van 'n plaanswerf tot 'n blink klassieke Vespa

Een van die groot trekpleisters was die oudste deelnemende Vespa, 'n pragtige 1957-model wat aan Danie Smit behoort. Dié bromponie was eens 'n wrak wat op 'n plaas aan die Weskus gelê het, maar is intussen pragtig gerestoureer.

Saam met dié klassieke Vespa het George Yamaha ook 'n splinternuwe 2026 Vespa 310 uitgestal. Die twee het mooi gewys hoe die handelsmerk oor agt dekades ontwikkel het sonder om sy kenmerkende karakter te verloor.

Die vieringe is moontlik gemaak met die ondersteuning van Outeniqua Lifestyle Centre, Polpetta Italian Restaurant en Bossa Restaurant, wat as borge gehelp het om die dag 'n behoorlike fees vir Vespa-aanhangers te maak.

Rome vier op groot skaal

George se viering was deel van 'n veel groter wêreldwye verjaarsdagjaar vir Vespa. In Rome het sowat 25 000 Vespas uit 67 lande op 27 Junie 2026 saam deur die Italiaanse hoofstad gery. Die stoet het ook by die wêreldbekende Kolosseum verbygegaan, 'n gepaste toneel vir een van Italië se bekendste uitvoerprodukte.

Die internasionale vieringe het 'n indrukwekkende versameling Vespas van verskillende tydperke byeengebring, van skaars vroeë modelle tot die nuutste weergawes. Dit is juis dié vermenging van oud en nuut wat die handelsmerk se aanhang so interessant maak.

Tagtig jaar van 'n eenvoudige idee

Vespa se verhaal het in 1946 begin toe Piaggio 'n eenvoudige, bekostigbare en stylvolle vervoermiddel vir die naoorlogse Italië ontwikkel het. Die Vespa word sedert sy ontstaan in Pontedera vervaardig, en die oorspronklike idee het lankal in 'n wêreldwye kultuurikoon verander.

Vandag is Vespa veel meer as net vervoer. Vir baie eienaars gaan dit oor Italiaanse ontwerp, vryheid, avontuur en die gemeenskap wat rondom hierdie klein bromponies ontstaan het. Dit is die soort voertuig wat mense laat stilhou, gesels en stories uitruil.

Die mense agter die bromponies

Volgens Granville en Huida Shenker, wat die George-viering georganiseer het, was die dag 'n viering van veel meer as net die Vespas self.

“Baie dankie aan almal wat saam met ons Vespa se ongelooflike 80ste bestaansjaar gevier het. Julle teenwoordigheid het die dag besonders gemaak, van die lag, stories en kuier tot die bewondering vir hierdie ikoniese Vespas wat al geslagte lank mense met styl en vryheid vervoer. Hierdie mylpaal gaan nie net oor Vespa se geskiedenis nie, maar ook oor die besondere gemeenskap wat die handelsmerk vandag nog lewendig hou.”

Granville en Huida Shenker, organiseerders van die George-viering

As die opkoms in George enige aanduiding is, lyk dit of Vespa se storie nog lank nie klaar geskryf is nie.

Internasionale agtergrond: Die syfers oor die Rome-viering is bevestig deur Piaggio Group se amptelike verslag van 27 Junie 2026. Plaaslike byeenkomsbesonderhede: artikel deur Johann van Tonder.

BACK TO ULTIMATE RIDE 2026

SHARE THIS ARTICLE

Enjoyed the ride? Share the story.

WHATSAPP

Post navigation